Gedagte vir die dag: Nooit alleen nie

agent-vir-God

Argieffoto

Lees: Hebreërs 13:1-8

Onthou dat God die versekering gegee het: “Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.” Daarom kan ons moed skep en antwoord: “Die Here is my hulp; daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan ’n blote mens my aandoen?” (Hebreërs 13:5-6, NLV)

Martin Luther King het talle dreigemente van rassistiese Amerikaners ontvang. Hy het dus deurentyd vir sy lewe en dié van sy gesin gevrees. Hy is deur die Ku Klux Klan gearresteer en in die tronk gegooi omdat hy vir die regte van die Afrikaan-Amerikaners in Amerika geveg het.

In sy boek Spirituele oorlewing haal Philip Yancey uit ’n preek van Martin Luther King aan: “Ek het op ’n punt gekom waar ek dit nie meer kon hanteer nie. Ek was swak. En ek het toe ontdek dat godsdiens vir my ’n werklikheid moes word, ek moes God persoonlik leer ken.” King het Jesus se stem gehoor wat vir hom gesê het hy moet aanhou veg, Hy het belowe om hom nooit te verlaat of alleen te laat nie. Die preek eindig dan ook met hierdie woorde: “Hy het belowe om my nooit alleen te laat nie. Nee, nooit alleen nie. Nee, nooit alleen nie.” Hierdie woorde was genoeg om King vir die volgende 13 jaar van sy loopbaan te dra.

Jesus skenk hierdie belofte aan elkeen van sy kinders. Jy kan selfs die ergste swaarkry in die lewe verdra omdat jy weet dat God jou nooit alleen sal laat nie. In Jesus (Immanuel) is Hy by jou, deur sy Heilige Gees woon Hy in jou sodat jy elke oomblik van jou lewe deur sy liefde en teenwoordigheid omvou word.

Here Jesus, dankie dat U my nooit ooit sal los nie, maar elke oomblik van my lewe by my sal wees. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.