Gedagte vir die dag: Nuwe gesalfde

twee_mense_stap_sonsondergang_boekvat.jpg

Foto: jorgeschulz.wordpress.com

Toe sê die Here: “Staan op en salf hom, want dis hý”. (1 Samuel 16: 12)

Op ’n warm someroggend baie jare gelede het ek my intreepreek (met strikdas, manel en toga aan) in ’n groot ou kerk in ’n Suid-Kaapse dorp gehou; uit hierdie teks. Die preek, pynlik van die senuwees voorberei, het maar platgeval (behalwe vir my dierbare ou moeder wat dit uiters lojaal ’n “sielsversterkende boodskap” genoem het). Maar die wonderlike teks het by my gebly: God wat vir Hom ’n koning uit die veld laat haal het sodat Samuel hom kon salf.

Dis of die Here, soos meermale by verskeie geleenthede in die Bybel, so effe met Samuel ’n raai-raai-speletjie speel. Hy gee Samuel bloot ’n adres: die huis van Isai in Betlehem. Maar Hy voorsien geen naam nie. Dis of Hy vir sy dienaar Samuel sê: “Kyk of jy kan raaksien wat Ek kan raaksien. Laat die seuns verbykom.” En elke keer raai Samuel totaal verkeerd. Iets van die Here se fyn humor blyk hier tussen al die erns.

Arme Samuel het reeds in vrees vir Saul Betlehem toe gegaan en die Here voorsien hom selfs van ’n voorwendsel! Hy moes ’n offermaaltyd gaan hou. En dan word die “blokraai” ingevul: die jongste, die skaapwagter met die rooi gesig en mooi oë … Dit was God se man! Hoe vreemd, dramaties en selfs met humor tree die Here nie op nie! Die groot Saul sou vervang word met ’n tiener. “Samuel het hom voor sy broers gesalf” en “die Gees van die Here het van dié dag af kragtig in Dawid gewerk” (v. 13).

Die Here werk op duisendvoudige maniere, en iewers bring Hy die drade bymekaar. Hy gebruik alle ouderdomme. Sy metode is altyd hemels interessant en dikwels opwindend. Dit vra soms groot opoffering en die moed om jou vrees te sluk. Maar soos Langenhoven gesê het: “My Vader daarbo het sy hand op die rat, met sy oë gerig op die draai in die pad.”

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Excalibur ·

Amen! Die mens wik maar God bekik. Hoe wonderlik geseend om ‘n klein ou vaal legstukkie in die Allerhoogste se reenboog legkaart te wees … U wysheid & liefde verstom my; Dankie Vader vir elke asemteug en gedagte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.