Gedagte vir die dag: Nuwe oë gevra

perde.jpg

Argieffoto

Toe bid Elisa: “Here, maak tog sy oë oop sodat hy kan sien!” Die Here het sy dienaar se oë oopgemaak. Toe hy opkyk, sien hy dat daar baie perde en strydwaens van vuur op die heuwels rondom Elisa was. (2 Konings 6:17)

“Dit werk nie. Ek het dit al probeer.” Praat jy van ’n dieet, ’n oefenprogram, ’n resep, of ’n nuwe projek by die kerk, hoor jy sulke woorde. Van dinge wat nie werk nie gepraat – dit is al weer tyd vir Nuwejaarsvoornemens. Onwettige ekstra kilogramme; slegte gewoontes – dit moet aan die begin van die nuwe jaar val. Die minder goeie nuus is dat sulke voornemens nie lank hou nie. Wat van ’n ander roete – een wat jou fokus verskuif? Wat van die keuse om nuwe oë te hê en om elke dag op die uitkyk te wees vir God? Die meeste mense loop Hom nou en dan in die kerk raak, of as hulle Bybel lees of bid. Maar God is orals. Hy is die Almagtige. Vra Hom vir oop oë sodat jy Hom vandag en in die nuwe jaar orals kan raaksien – in mense, in die natuur, in jou lewe. Dan sal jou geloof se bandwydte verbreed. Dan sal jy weet dat Hy Immanuel is. Hy is God met ons.

God se teenwoordigheid is nie afhanklik van of ingeperk tot godsdienstige en ander feesdae nie. Daarom kan ons dit waag om vandag te leef tot eer van die Here. Ons hoef nie te wag tot die nuwe jaar voordat dit ons voorneme is om met geestelike oop oë te begin leef nie. Nee, ons moet dit vandag reeds doen. Ons moet agter Elisa aan bid dat die Here ons oë sal oopmaak, soos wat Hy gedoen het toe sy profeet gevra het dat sy slaaf se oë sal oopgaan. Toe sien hierdie einste slaaf die magtige teenwoordigheid van die Here raak rondom hom en Elisa. Wat ’n gebed vir vandag en wat ’n voorneme vir die nuwe jaar – oop oë, daardie soort wat God vreugdevol in geloof raaksien.

Bron:
Blydskap wat bly deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.