Gedagte vir die dag:  Nuwejaar: Die Lig op my pad

bybel-lig-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad. (Psalm 119:105, Bybel in Afrikaans 1933/1953)

Welkom in die nuwe jaar! Voor ons staan die deur wawyd oop. Daar is geleenthede wat wag, besluite wat geneem moet word en gevare wat trotseer sal moet word. Genadiglik hoef ons die onbekende jaar nie alleen aan te durf nie. Elke dag kan ons die Here God se voetstappe langs ons hoor, sy stem in ons ore.

God het aan ons sy Woord gegee om as lamp vir ons voet en lig op ons pad te dien. Daaraan het Paulus sy jong metgesel, Timoteus, tweeduisend jaar gelede al herinner. Paulus was al na aan die einde van sy pad, Timoteus nog aan die begin. Paulus het die jong man gevra om vas te hou aan die Woord, want dit is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek. Dit sal jou voorberei vir elke taak wat op jou wag, het hy gesê. Dis ook vir ons waar.

Ons gaan gedurende die twee en vyftig weke van die jaar elke dag besig wees met die Bybel. Ons gaan saam met God op ’n groot avontuurtog. Soos die Here vir Abram en die profete geroep het, soos Jesus sy dissipels genooi het om Hom te volg en uitgestuur het as sy gesante, roep Hy ons vandag nog en nooi Hy ons om saam met Hom op reis te gaan. Dit word ’n lang, interessante reis, op die voetspore van Israel.

Mag dit jou ervaring wees dat die Here elke dag in sy Woord iets nuuts vir jou sê, jou iets spesiaals leer en jou met ’n ligte tred verder laat stap.

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.