Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys. (Genesis 12:1)
Wie was dié man wat die Here geroep het? Hy was nie ’n groot figuur in die antieke annale, ’n beroemde skrywer, ’n magtige farao of groot veroweraar nie. Hy was maar net Abram, ’n rondtrekkende familiehoof op soek na goeie weiding. En tog het die Here hom uitgesoek.
Genesis 12 vertel van God se tweede skeppingsverhaal. Eers het God die hemel en die aarde geskep. En nou die verhaal van hoe God uit ’n klein, onbelangrike groepie sy volk Israel geskep het. Aan die einde van die eerste skeppingsverhaal het die Here vir Adam en sy nageslag geseën: “Wees vrugbaar, bewoon die aarde!” En nou kry Abram ook so ’n seën by God: “Trek uit jou land uit. Ek sal jou ’n groot nasie maak. Ek sal jou seën en jy moet tot ’n seën wees.”
Abram se roeping neem ons vierduisend jaar terug in die geskiedenis. Maar vandag nog eer miljoene sy nagedagtenis. Vir die Jode wêreldwyd is God die Vader van die uitverkore volk, wat hulle deur die eeue begelei het. Vir Christene is Abram nog meer. Hy is die vader van alle gelowiges, wat soos die Hebreër-boek sê, “geglo het toe God hom geroep het, in geloof weggetrek het en in ’n vreemde land gaan woon het”. Geen wonder dat Paulus en Jakobus so baie van Abram maak nie.
Nie een van ons is Abram nie – en tog roep die Here elkeen van ons om Hom te volg na die Beloofde Land wat Hy vir ons voorberei het. Hy het elkeen van ons vir die reis gekies. Die groot vraag is: Stap jy vanjaar saam, op die onbekende pad? In geloof, met jou hand in Syne?