Gedagte vir die dag: Nuwejaarsvoornemens

watter-pad-om-te-neem

Foto: Argief.

Lees: Spreuke 16:1-9

Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk. (Spreuke 16:3)

Môre is dit die eerste dag van ’n splinternuwe jaar vol nuwe geleenthede, doelstellings en kanse. Die meeste van ons begin dan ook die nuwe jaar met ’n reeks nuwejaarsvoornemens, wat helaas die meeste van die tyd nie veel langer as die eerste maand van die jaar duur voordat ons dit laat vaar nie.

In die vrouetydskrif Lig van Desember 2013 was daar ’n interessante toets waaraan jy jou eie nuwejaarsvoornemens kan meet. Hierdie toets word die SMART-kriteria genoem. Hulle is: Spesifiek, Meetbaar, Achievable (Doenbaar), Realisties en Tyd.

Jou doelwitte moet duidelik en spesifiek wees, jy behoort ook jou vordering te kan meet om uit te vind of jy nog op die regte pad is. Derdens help dit nie om vir jouself ’n doelwit te stel wat onuitvoerbaar is nie – dit moet bereikbaar (achievable) wees. Terselfdertyd behoort jy hierdie doelwitte op ’n realistiese manier aan te pak, deur vas te stel of jy wel oor die hulpbronne beskik om hulle te bereik. Dit help nie om ’n oorsese reis sonder enige fondse te beplan nie. Laastens behoort jy vir jou ’n tydsgrens daar te stel. Besluit wanneer jy hierdie doelwit wil bereik. Volgende jaar nog, of eers oor drie of vier jaar?

Indien jy hierdie vyf dinge doen, gaan jy vind dat jy dalk volgende jaar vir die eerste keer ooit jou nuwejaarsvoornemens uitgevoer gaan kry.

Here, maak asseblief my voornemens vir volgende jaar spesifiek, meetbaar, doenbaar, maar beslis realisties sodat ek hulle binne ’n bepaalde tyd met u hulp sal kan waar maak. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.