Gedagte vir die dag: O, die liewe tong!

mense-gesels_mistig_berg_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Jakobus 3:3-12

Partykeer loof daardie tong ons Here en Vader, en ander kere vloek dieselfde tong mense wat na die beeld van God gemaak is. Dit beteken dat lof en vloek uit dieselfde mond kom. Dit kan tog nie so wees nie, my broers en susters! (Jakobus 3:9-10)

Daar word ’n storie vertel van ’n rabbi wat ’n sak vere in die wind uitgestrooi het. Toe die vere begin waai, sê die rabbi vir ’n vrou wat geskinder het sy moet al die vere gaan bymekaarmaak. Sy antwoord dat dit tog onmoontlik is. Die rabbi antwoord toe dat skinder dieselfde gevolge het. Jy kan nooit weer al die skade ongedaan maak nie.

As ek van al die mondsondes in Jakobus lees, tref dit my hoe maklik ons ons kan skuldig maak daaraan. Terloops, mondsondes is die sonde wat die Here die meeste aanspreek in die Nuwe Testament. Dis so maklik om iets oor te vertel. Ons maak of dit vertroulik is en vra die volgende persoon mooi om dit nie oor te vertel nie, maar dan versprei dit soos ’n verwoestende veldbrand. Skade word aangerig, mense se lewens word verwoes. En dan kom die verskonings van ek het dit nie so bedoel nie of ek het nie gedink dis so erg nie.

Die mond wat die Here vereer in lofsang en aanbidding is dieselfde een wat ander se lewens bespreek en ontrafel. Ons matig ons die reg aan om ander se lewens te bespreek asof ons presies weet wat daarin aangaan. Ons moet eers vir een dag in iemand anders se skoene stap voordat ons ’n druppel sal verstaan van sy lewe. En dan beteken dit steeds nie dat ek ’n opinie mag lewer nie. Ek mag dalk ’n opinie in my kop hê, maar ek mag dit nie hardop uitspreek nie!

Ons moet leer om ander mense se lewens uit te los. Ons het geen reg om ons daaroor uit te spreek nie. Dit is eenvoudig skinder! Konsentreer op jou eie lewe, fokus op die Here en werk en lewe met die vrugte van die evangelie in jou lewe.

Here, help my om op U te fokus en nie op ander se lewens nie. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.