Gedagte vir die dag: Oë van geloof

woud_strale_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Jesus sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verward en waarom kom daar twyfelgedagtes in julle harte op? Kyk na my hande en my voete: Dis mos Ek self. Vat aan My en kyk! ’n Spook het tog nie vleis en bene soos julle kan sien dat Ek het nie.” (Lukas 24:38-39)

Ons emosies kan ons maklik laat voel of God baie ver van ons af is. Beproewing en pyn laat ons twyfel in sy liefde. Vyande en vervolging skep vrees en laat ons wonder of ons veilig in sy hande is. As ons moet wag op ’n antwoord op ons gebede, twyfel ons of Hy luister. Ons sukkel om te glo in dit wat ons nie kan sien nie, ten spyte van sy belofte om vir altyd by ons te wees, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis. (Matteus 28:20)

Bid vir oë van geloof om Jesus te kan sien. Hy openbaar Homself nie altyd soos wat ’n mens verwag nie. Julle probleme kan dalk sy liefdevolle teregwysing wees, julle vriende se bemoedigende woorde is dalk sy stem van liefde. Die kos op julle tafel en die dak oor julle kop is dalk sy troue sorg. Julle liefdevolle huwelik is sy geskenk van vertroosting.

Sy Woord is altyd byderhand om julle van waarheid en wysheid te voorsien. Sien af van julle vertwyfeling en glo dat Hy by julle is. Hou vas aan sy belofte in Josua 1:9: “My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie. Die Here jou God is saam met jou oral waar jy gaan.”

Here, U lewe, U is hier en u liefde is nimmereindigend. Verseker ons vandag weer daarvan. Amen.

Bron:
Mnr & Mev – 366 oordenkings vir egpare deur Rob & Joanna Teigen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.