‘#OfcourseMeToo’ net sowel die kreet van Christenvroue in Colombia

Foto: ©Geopende Deure Internasionaal

Die #MeToo-veldtog maak deesdae wêreldwyd opspraak, met vroue van reg oor die wêreld wat die hutsmerk gebruik as ʼn vorm van protes oor seksuele wandade wat teen hulle gepleeg is. Verskeie Hollywood-sterre is reeds deur hierdie veldtog as seksuele oortreders gebrandmerk.

Maar terwyl die wêreld nou aan die gons is hieroor, is seksuele geweld die wapen van vervolging wat al jare lank teen Christenvroue in Colombia gebruik word. Indien hierdie vroue ʼn veldtog van stapel kon stuur, sou dit tereg kon wees: “#OfcourseMeToo”.

“Hulle beroof jou van jou familie. Hulle dwing jou om ʼn lewe te leef wat jy nie gekies het nie. Hulle verruil ʼn pop vir ʼn geweer, ʼn speelgrond vir ʼn slagveld en rand jou seksueel aan. Hierdie oortredings skend jou siel. Nie ʼn enkele dag gaan verby wat jy nie daaraan dink nie.” Dít is die hart-verskeurende woorde van Sara*, ʼn voormalige ‘guerrilla’ wat nou die stilte verbreek oor die wrede ervaringe wat vroue-vegters in die konflik in Colombia beleef.

Foto: ©Geopende Deure Internasionaal

Net soos Sara, is daar duisende vroue en kinders in Colombia wat deur die guerrillas gewerf of ontvoer word, en hierdie stille geweld moet verduur; geweld wat die hart en siel wegvreet.

Luz*, ook ʼn voormalige guerrillavegter, het ná haar bekering tot Christenskap besluit om die guerrillas te verlaat. Toe haar kamerade dit uitvind, het hulle haar seksueel aangerand.

“Seksuele mishandeling is ʼn gewelddadige wyse om die wil van ʼn persoon te knak. Dis ʼn manier om ʼn individu se identiteit te vernietig, te steel,” sê María, Geopende Deure se Trauma-ondersteuningskoördineerder in Colombia.

In die inheemse gemeenskappe van Colombia neem die teistering en seksuele geweld teenoor Christenvroue en -meisies weer ʼn ander vorm aan. Hier word Christenmeisies dikwels as bruide aan ongelowige mans verkoop, vir alleenlik een rede: om hulle te verwyder van Christenskap.

Soraya*, een van die inheemse meisies wat onlangs by ʼn Geopende Deure-skuilhuis gewoon het, moes van haar gemeenskap gevlug het nadat sy in die trou “beloof” is aan ʼn tradisionele man en teenstaander van Christenskap. Soraya het net betyds weggekom, meeste inheemse meisies is nie so gelukkig nie…

Terwyl Christenmans dikwels vervolging ervaar wat meer verband hou met hulle werk en diensplig, word Christenvroue spesifiek, en mees dikwels, geteiken deur vervolging in die vorm van dwang-huwelike, verkragting en ander tipes seksuele geweld.

In samewerking met die Christian Psychologists Network, is Geopende Deure hard aan die werk om bewustheid te skep oor die seksuele geweld wat vervolgde Christengemeenskappe, spesifiek in Colombia, ervaar.

Verder dien Geopende Deure  miljoene vervolgde Christene, soos Sara en Soraya, in meer as 50 lande in samewerking met plaaslike kerke en vennote, deur middel van gebedsondersteuning, die voorsiening van Bybels, Christelike materiaal, dissipelskap, lewensbestaansopleiding – en op verskeie ander maniere.

Foto: ©Geopende Deure Internasionaal

Van hierdie 50 lande waar Geopende Deure werksaam is, word nie gereeld deur toeriste besoek nie en min mense weet selfs waar dit op ʼn wêreldkaart geleë is. Kyk hier of jy die Top-10 lande wat die meeste vervolging ervaar op hierdie wêreldkaart kan identifiseer.

*Name verander en verteenwoordigende foto’s gebruik vir sekuriteitsdoeleindes.

Volg Geopende Deure op sosiale media:
Facebook
Twitter
YouTube
Instagram

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.