Gedagte vir die dag: Om Christus se liefde te ken

hart_wolk_liefde.jpg

Argieffoto

Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. (Ef 3:18-19) (lees ook v 16-17)

Sou dit verkeerd wees om te sê ons leef in ’n liefdelose wêreld? Ek praat van die wêreld wat dag vir dag deur die nuusmedia aan ons voorgehou word, ’n wêreld waar haat, geweld en misdaad hoogty vier. Die gelowiges in Efese het so ’n liefdelose wêreld geken. En daarom bid Paulus nou dat die Here hulle bewus sal maak van die onbeperkte en onpeilbare, wonderlike liefde van Christus.

In die vorige verse vra hy dat hulle bewus sal word daarvan dat Christus in hulle harte woon en dat hulle in sy liefde veranker is. Moenie na die wêreld kyk nie; kyk na Christus en ervaar die rykdom van sy liefde in jou.

En dan: “Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan” (Ef 3:18-19). Om te begryp en om te ken. Hoe skraal is ons kennis van sy liefde tog nie. Ons word so oorweldig deur ’n liefdelose wêreld dat ons vergeet van Christus se onpeilbare groot offerliefde. Ons ken dit nie omdat ons ons te min bewustelik daarin verlustig. Ervaar sy liefde in die deernis en omgee van medegelowiges. Ervaar dit in die glimlag van ’n bejaarde en die skaterlag van ’n kind. Ervaar dit deur net weer ’n slag na die kruis te kyk! Dan sal julle met die volheid van God vervul word.

Ontdek opnuut die liefde van Christus sodat jy ’n volheidslewe kan ervaar.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.