Gedagte vir die dag: Om die wêreld te oorwin

vriende-strand-stocksnap-pixabay-stiltetyd.jpg

Foto: stocksnap/pixabay.com

Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. (Johannes 1:12)

Julle is almal God se kinders deurdat julle in Christus Jesus glo. (Galasiërs 3:26)

Ons gaan hierdie wêreld oorwin deur ons geloof in God. Ons moet nooit die woorde van Markus 11:22 vergeet nie: “Julle moet geloof hê in God.” Wanneer ons in Hom glo en Jesus in ons lewe aanvaar, word ons kinders van God. Wat beteken dit om die wêreld te oorwin? Wel, dit beteken om uit te styg bo ons omstandighede. Dit beteken om nie te val vir die leuens van die duiwel nie.

Baie dinge in die wêreld laat mense vandag moedeloos voel. Hulle is paniekbevange. Niemand weet wat die toekoms inhou nie. Mense weet nie hoe hulle dit gaan hanteer nie. Tog sê die Here baie duidelik in Jesaja 59:19: “Wanneer die teëstander aanstorm soos ’n rivier, jaag die Gees van die Here hom op loop” (Bybel in Afrikaans 1983/1992).

Ons moet vandag sterk staan in die geloof. Ons lees in Jeremia 33:3: “Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie” (Bybel in Afrikaans 1983/1992). Jesus sal vir ons die krag gee om die uitdagings te hanteer wat oor ons pad kom. Moenie bang wees nie, pak eerder iets aan wat so groot is dat dit beslis gaan misluk as dit nie van God af kom nie.

Waarvoor vertrou jy God op hierdie stadium in jou lewe? Ek wil jou aanmoedig om op te kyk, want die dag van jou verlossing kom al hoe nader. Doen iets wat baie groot is en kyk hoe God jou geloof vermeerder.

Bron: Alles wat ek nodig het deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.