Gedagte vir die dag: Om God te ken

Bybel_boek_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

As ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken. Iemand wat sê: “Ek ken Hom,” maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is ’n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie. (1 Johannes 2:3-4)

Hoe goed ken jy God? Ek vermoed dat die vraag so ’n bietjie kopkrap gaan kos. Watter soort kennis word bedoel? Kan ek byvoorbeeld daarop aanspraak maak dat ek God ken wanneer ek die Bybel ken? Hoe anders doen ’n mens kennis van God op? Dit gaan egter oor baie meer as Bybelkennis. Die soort kennis waaroor ’n mens eksamen kan skryf, het gewoonlik met feite te doen. Kennis van God het met ’n verhouding te doen. Dit gaan oor gemeenskap met God deur die geloof. Dit gaan oor ’n verhouding wat in liefde gemunt is.

Maar dan moet ons in gedagte hou dat Bybelse liefde volgens die regte reëls gespeel moet word. Bybelse liefde, die liefde vir God en my naaste, moet volgens die reëls van die wet gespeel word. As jy beweer dat jy God ken, dat jy Hom liefhet, moet dit sigbaar word in die manier waarop jy sy wet gehoorsaam. Jy gehoorsaam nie die wet sodat God jou kan begenadig nie, maar omdat jy God graag op sy liefde wil antwoord.

Onverskilligheid ten opsigte van sonde is ’n swak getuienis van jou verhouding met God. Ons durf onsself nie die reg toeeien om ander mense se geestelike peil te oordeel nie. Laat ons liewer die toets ten opsigte van ons eie lewe aanlê. Hoe dink jy oor sonde? Verstaan jy dat dit jou verhouding met God onteenseglik belemmer?

Bron:
In die skadu van die Allerhoogste deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.