Gedagte vir die dag: Om God te ken

man-kniel-gebed.jpg

Foto: imgarcade.com

Wanneer ek in my gebede aan julle dink, bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie al die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. (Ef 1:16-17)

Lees Efesiërs 1:15-17

Aan die begin van sy brief gee Paulus ’n mooi getuigskrif vir die gemeente in Efese: Hy sê die mense praat van hulle geloof en liefde. Geloof in God en liefde vir ander mense kan nooit van mekaar geskei word nie. Hulle is twee kante van dieselfde muntstuk. Hierdie geloof van die Efesiërs waarvoor Paulus hulle prys, word juis bewys in die liefde wat hulle teenoor ander mense uitleef. Paulus bid ’n pragtige gebed vir die Efesiërs: Hy vra dat God deur sy Heilige Gees aan die gemeente wysheid sal gee en dat Hy Hom só aan hulle sal openbaar dat hulle Hom werklik sal ken.

Kort voor sy kruisiging beloof Jesus aan sy dissipels dat Hy vir hulle die Heilige Gees sal stuur as Hy weggaan, en dat hierdie Gees oor Hom sal getuig (Joh. 15:26). Sonder die Gees van God in jou lewe is geestelike groei en in sig in God se wil onmoontlik. Jy sal God ook nooit volkome kan ken sonder die wysheid wat alleen die Heilige Gees vir jou kan gee nie.

Vra dat die Here sy wysheid in jou eie lewe en in jou gemeente sal gee sodat jy ook geestelik sal kan groei en sterker sal kan word en dat jy Hom inderdaad elke dag beter sal leer ken en liewer sal kry.

Here, gee my asseblief u wysheid sodat ek geestelik kan groei en U werklik sal leer ken. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.