Gedagte vir die dag: Om God te sien

man-with-open-arms-705x335.jpgGeseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien. (Matt 5:8)

Gelukkig is almal wie se lewe van binne af nuut geword het. God sal sorg dat hulle Hom met hulle eie oë sien. (Matt 5:8) Die Boodskap

Lees Matteus 5:3-12

Rein beteken suiwer, foutvry, onberispelik. En daar is nie een mens wat aan hierdie beskrywing voldoen nie. Almal van ons is van geboorte af sondig. Die swaar beproefde Job het ’n hunkering gehad om God tydens sy leeftyd te sien. “Selfs nadat hierdie siekte my vel weggevreet het, sal ek nog lewe en God sien. Ek sal Hóm sien, met my eie oë sal ek Hom sien, Hom en niemand anders nie. Ek smag daarna met my hele lewe,” getuig hy in Job 19:26-27. Eers wanneer Job God erken vir wie Hy is, trek God die gordyn vir hom so effens opsy. “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien,” bely Job in Job 42:5.

As jý God wil sien, as jy graag ’n rein hart wil hê, sal jy Jesus moet vra om jou sondes met sy bloed af te was, sal jy die Heilige Gees moet vra om jou van jou sonde bewus te maak, en boonop bereid wees om daardie sonde te bely én te laat staan. Dán sal jy God eendag van aangesig tot aangesig sien met Jesus se wederkoms.

Here, dis ’n ontsagwekkende belofte hierdie – dat mense wat rein van hart is U sal sien. Gee asseblief vir my ’n rein hart sodat ek U van aangesig tot aangesig kan sien wanneer U weer kom. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.