Gedagte vir die dag: Om Hom te ken

vrou_stiltetyd_gebed_genade.jpg

Foto: Crosswalk.com

Lees 1 Samuel 3: 1- 10

Maar Samuel het nog die Here geken nie , want die woord van die Here was nog nie voorheen aan hom geopenbaar nie (1 Sameul 3:7).

Die jong man was na alle waarskynlikheid toe reeds ‘n geruime tyd in die tempel, waar hy onder die ou priester se toesig “die Here gedien” (v. 1) het.  Só vertel die skrywer.

Ons, die latere lesers hiervan, neem kennis van sy opmerking dat die Here maar “min gehoor” (v. 1) is, dat daar nie dikwels openbarings was nie.  Dat ou priester Eli nie meer goed kon sien nie.  Dat hy aanvanklik, selfs ná die tweede keer dat die stem na Samuel geroep het, nie twee en twee kon bymekaar tel nie.  Dat hy eers die derde keer agtergekom het: Daar kan mos net Een wees wat so aanhou en aanhou…

Dit is die bekende storie.  Die voor die hand liggende, nugter feite.  Maar wie kan lesers verkwalik wat tog wonder: Hoe gebeur dit dat daar iemand wat in die tempel werk, een van wie daar selfs gesê word dat hy die Here dien, sommerso ligweg vermeld word dat hy nog nie die Here geken het nie?

Wat sê dit, byvoorbeeld, van die priester onder wie se toesig hierdie godsdiens verrig is?  Was dit net Eli se oë wat swak geword het?  Of het sy ore wat God se stem moes hoor ook ingegee?  En het sy moed om God te eer ook verdwyn?

Wat van hierdie vraag: Is dit moontlik om godsdiens sonder God te bedryf?

Here, ek wonder ook oor my vroom gewoontes en rituele.  Hoor ek ooit u stem?

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.