Jesus sê vir Tomas: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.” (Johannes 14:6)
Almal wat God waarlik ken en in Hom glo, sal die ewige lewe hê. As ons Hom ontmoet en tyd saam met Hom deurbring, leer ons God se ware karakter en persoon ken. Dit is wat ons vrymaak en vir ons die ewige lewe gee.
Ons kan die hemelse Vader intiem ken deur sy Seun, die Here Jesus Christus, beter te leer ken. In Johannes 14:7 sê die Here vir sy dissipels: “As julle My ken, sou julle my Vader ook geken het. Van nou af ken julle Hom en het julle Hom reeds gesien.” Uiteindelik moet ons moeite doen om Jesus só goed te leer ken dat ons Hom as die beste Vriend wat ons nog ooit gehad het, sal beskou.
Jy kan soms baie tyd saam met iemand deurbring en daardie persoon steeds nie waarlik ken nie. Dit beteken ons kan alles omtrent Jesus weet sonder om Hom waarlik as ons Here en Verlosser te ken. Dis waarom ons elke dag in gebed vir Jesus moet vra om Hom aan ons te openbaar sodat ons Hom voortdurend beter kan leer ken.
Ons het die voorreg om God te leer ken omdat Jesus sy lewe vir ons aan die kruis gegee het sodat ons met ons hemelse Vader versoen kon word. Die skeiding tussen die mens en God is herstel die oomblik toe Jesus aan die kruis by Golgota gesterf het. Daardie gordyn wat geskeur het toe Hy gesterf het, is die teken dat Jesus die weg vir ons gebaan het (Matteus 27:51). Die skeiding tussen ons en Hom is nou vir ewig weggeneem sodat ons vry is om God persoonlik te ken en ’n intieme verhouding met Hom te ontwikkel.
“Vir die kunstenaar is Hy die allerlieflikste een. Vir die opvoeder is Hy die Meester-leraar. Vir die filosoof is Hy die wysheid van God. Vir die eensame persoon is Hy ’n broer; vir die hartseer persoon ’n trooster; vir die diep bedroefde die opstanding en die lewe. En vir die sondaar is Hy die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Johannes H Gerstner).
Hemelse Vader, dankie vir Jesus, my wonderlike Redder, wat vir my gesterf het sodat ek ’n lewende verhouding met U kan hê. Help my om elke dag in gehoorsaamheid en vriendskap met U te wandel. Amen.
Bestaan die Here regtig?
Mariaan my antwoord op jou JA
Here is lief vir jou x