Gedagte vir die dag: Om jou nie te steur nie

Stiltetyd_sonsondergang_vrou_Juanita.jpg

Foto: Juanita Badenhorst

Maar die kwaadwilliges het gevra: “Hoe sal hý ons red?” Hulle het hom met minagting behandel en geen geskenk vir hom gebring nie, maar daaraan het Saul hom nie gesteur nie. (1 Samuel 10:27-28)

Die proses van die volk se “goedkeuring” van die Here se keuse as koning was heel indrukwekkend. Die stamme het verbygekom en eers is die stam van Benjamin aangewys. Daarna die familie van Saul en op die ou end moes Samuel Saul laat haal waar hy weggekruip het “tussen bondels goed” (v. 22).

Die jongman wou dalk wegskram, bewus van die verantwoordelikheid, ook uit ’n tipe nederigheid van ’n plaasseun wat gaan donkies soek het.

Samuel het Saul as die Here se keuse aan die volk voorgestel en hulle het gejuig: “Lank lewe die koning!” Daarna het Samuel ’n tipe “grondwet” vir die koninkryk en koningskap aan die vergadering voorgelê en dit is in ’n boek opgeteken. Samuel is daarna huis toe, sy taak vir eers afgehandel, waarskynlik (tereg) met ernstige bedenkinge. Die Here het Israel hulle sin gegee, maar …

Intussen het Saul klaar met die harde werklikheid van leiding en koningskap te doen gekry. “Kwaadwilliges” (en hierdie tipe is meesal in alle situasies teenwoordig) het snedige opmerkings gemaak en Saul “met minagting behandel”. Die gebruiklike geskenk is nie deur hulle aan hom oorhandig nie, “maar Saul het hom nie gesteur nie”. Want die ware “dapperes” (v. 26) het saam met hom gegaan.

Dié tipe ingesteldheid is iets om na te streef: die gedurige besef dat mense jou nie noodwendig goedgesind is nie en jy dit soos Saul met grasie van jou kan afskud. Hy het nie eens op hulle onbeskoftheid gereageer nie. Ek wens ek kon dit altyd regkry, in die versekering dat ek my slegs aan die Here moet steur. Dis alleen moontlik deur jou te beroep op die kragtige Teenwoordigheid van die Here deur sy Gees, dieselfde Gees wat op Saul gerus het.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Blomme

Amen