Gedagte vir die dag: Om jouself te oorwin

voetspore.jpg

Argieffoto

God rus my toe met krag; Hy maak my pad veilig. (Psalm 18:33)

As jy nadink oor die jaar wat amper verby is, hoop ek dat die hoogtepunte en lekkertes vir jou uitstaan en dat jy dankbaar is oor wat jy kon doen. Maar, omdat die samelewing dikwels onredelike verwagtinge aan ons stel, kan ’n mens ook juis nou sommer net weer aan jou selfwaarde twyfel; wonder of jy tog vanjaar goed genoeg was. Goed genoeg ís.

Ek kan jou verseker dat die meeste mense al van tyd tot tyd met hierdie selftwyfel gestoei het. Daar is verskillende maniere om hieroor te dink en dit te hanteer. Maar miskien moet jy vandag weet: Jy is ook in jou wonder-oor-jouself nie alleen nie. Daarom kan jy ook hierdie emosies met vrymoedigheid voor Hom neersit:

Here, daar is soveel bekwame, slim, opgeleide en wyse mense om my dat dit my soms so half-verdwyn laat voel. En laat wonder hoe ek dan ooit goed genoeg sal wees. Dis dan wanneer die wêreld so asvaalgrys raak en die toekoms ’n donker prentjie word.

Dankie, Meester, dat ek ook met hierdie emosie nie alleen hoef te stoei en op moedverloor se vlakte hoef te blý sit nie. Dankie dat u begrip, liefde en omgee só groot is dat U my ook hieruit sal lei na groen weivelde vol hoop en vreugde. En oorwinning.

Miskien is die grootste oorwinning in die lewe … oor jouself.

Vader, soms vergeet ek wie ek in U kan wees. Wie ek reeds deur U ís.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Corrie ·

Baie dankie vir die stiltetyd boodskappies dit beteken baie vir my.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.