Gedagte vir die dag: Om naby God te lewe

Blomme_Berg_Reint_Dykema_20.jpg

Foto: Reint Dykema

Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Ek is God die Almagtige. Lewe naby My en wees opreg!” (Gen 17:1-2)

God het Abram reeds by sy roeping belowe dat hy ’n groot nasie sou word. Vir die Oosterling was dit die heel beste wat hom toegewens kon word, naamlik om ’n nageslag te hê. Maar toe gebeur dit nie. Abram en Sarai bly kinderloos. Wat ’n teleurstelling! Toe kom God weer ’n keer en ons hoor hoe Hy in Genesis 15 by herhaling vir Abram ’n talryke nageslag belowe. En jou waarlik, Abram neem vir God op sy woord. En die Bybel sê God het dit goedgevind dat Abram so geglo het.

Maar daar gebeur nogtans niks nie. Het God regtig vergeet?

Toe word Abram nege en negentig. Oud en oor die muur. Sarai is ook oud. Tyd is verby. En weer ’n keer kry Abram die belofte: jy sal ’n nageslag hê. En hierdie keer is God meer spesifiek.

Heel eerste moet Abram hoor dat God die Almagtige is. Dis iets wat ’n mens so maklik van God vergeet. Hy is tot alles in staat. Hy kan in die natuur en in mense se lewens ingryp. Moet nooit God se almag onderskat nie.

En dan kry Abram ’n opdrag. In hierdie opdrag word die sukses van ’n gelowige se lewe vervat. Heel eerste: lewe naby God. Moenie koers verloor nie. Moenie ompaaie loop nie. Moenie die pad byster raak nie. Bly net naby God. Dag vir dag. Gee God kans om jou lewenskoers te rig. En dan: wees opreg. En dit het hoofsaaklik te doen met jou verhouding met ander mense. Loop die reguit en eerlike pad met die mense wat jou pad kruis. En dan sal God self sorg vir die pad vorentoe.

Lewe naby God en wees opreg.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.