Gedagte vir die dag: Om te breek en te bou

 muur-hek-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Ek stel jou aan om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig. (Jeremia 1:10)

Net soos met Jesaja, het die Here Jeremia se mond aangeraak. Wat hy sou sê, het van die Here self af gekom. Om namens God te praat was moeilik. Hy het die dubbele opdrag gekry om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, en ook om te bou en te vestig.

Gedurende die eerste jare was die goeie koning Josia aan bewind – al was sy volk nie lus om sy voorbeeld te volg nie. Ná hom was dit nag. Jojakim, Jojagin en Sedekia was ongehoorsaam aan God. Daar was sonde en onreg in die land. Om sake te vererger was daar valse profete in die paleis. Hulle het Jeremia se boodskap dat die volk hulle moes bekeer, op allerlei maniere probeer fnuik – veral toe Jeremia begin praat van vormgodsdiens en sonde wat uitgeroei en platgeslaan moes word. Ander kere toe Jeremia die volk aangemoedig het om nuut te begin, te bou en te vestig, het hulle hom uitgelag.

Ons land het deur die jare ook profete gehad. Gedurende die onregverdige apartheidsjare en ook in die meer onlangse tyd, was en is hulle bereid om “Nee!” te sê waar onreg en korrupsie die lewens van miljoene versuur het. En om “Ja” te sê waar gelowiges dinge reg wou doen, waar hulle aan ’n beter samelewing wou bou. Dit het hulle dikwels duur gekos, maar hulle het hulle nie laat afskrik nie.

Sien jy kans om op die profetepad te stap? Om “Nee!” te sê waar dit nodig is, en om “Ja!” te sê waar dit pas. Om saam te bou aan die koninkryk van God in ons land.

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here U weet , U ken elke gedagte of dit goed of sleg is….Here help my om so te leef dat ander U in my kan sien tot eer en verheerliking van U naam….vergeef Here ons onverdraagsaamheid, .Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.