Gedagte vir die dag: Om te glo

Stiltetyd_wolke_plaas_Floris-Booysen-13.jpg

Foto: Floris Booysen

Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. (Hebreërs 11:1)

Om te glo is om seker te wees en so dikwels twyfel ons. Soms kom die twyfelgedagtes vanself in ons op, soms lees of hoor ons idees van mense wat openlik ongelowig is, ons geloof verkleineer, met sprokies en mites vergelyk en van God ’n karikatuur maak. Hulle wil alles met wiskunde, wetenskap en astrologie bewys en God sien soos hulle Hom vir hulle voorstel.

Maar selfs dié wat bevoorreg was om Hom te sien, wou hul oë nie glo nie en was gereed om met Hom te stry. Hoe moes hulle weet dat hulle God in die gesig spoeg, Hom slaan en aan ’n kruishout vasspyker – dieselfde God wat in sy sterwensoomblikke tot sy Vader bid om hulle te vergewe omdat hulle nie weet wat hulle doen nie? Hulle het Hom nie herken nie, omdat hulle geloof met hul verstand wou uitredeneer.

’n Jong ateïs wat skynbaar bogemiddeld intelligent is, het onlangs sy saak gestel met woord-vir-woord aanhalings. Dit was duidelik uit die boeke wat hy aangehaal het dat hy sy leeswêreld beperk tot die skrywers met wie hy saamstem en in wie hy sy vertroue stel. Sal hy in ’n vliegtuig klim en na die ander kant van die aardbol vlieg sonder om die lugvaartdinamiek in besonderhede te bestudeer? Drink hy gebottelde water sonder ’n waarborg dat dit absoluut veilig is? Wat van die lug wat hy inasem? Of geld sy skeptisisme en oningeligtheid net wanneer dit by sy Skepper kom?

God het ons lief, selfs al twyfel ons soms. Hy weet hoe ons geloof dag vir dag getoets word en hoe ons sukkel om te verstaan. Jesus sê eintlik is dit nie nodig om te verstaan nie; ons moet glo soos kindertjies. ‘Laat staan die kindertjies,’ sê Hy, ‘en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle’ (Matt 19:14).

Here, ek glo, kom my ongeloof tegemoet.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gert ·

Kan ons nie die stukkie vir Piet Croucamp stuur nie. Hy het dit dringend nodig.

E ·

Ek glo in God. Ek glo Hy sal in Jesus se naam vir my en my gesin sorg. Ek glo ek sal genoeg finansies hê om dit wat my kinders nodig het te voorsien.Ek glo dat ons dit deur die maand sal maak, ten spyte van die kospryse en petrol en als wat duurder raak, en salarisse wat dieselfde bly. Ek glo ons sal hierdie maand ekstra besigheid ontvang, want ons het dit brood nodig en is bereid om harder te werk.

God ek bid vandag in die naam van Jesus vir al die mammas en pappas wat kinders op skool het en finansiëel sukkel. Voorsien in ons behoeftes Vader want ons weet nie meer nie. Gee ons ook krag om met inspanning hard te kan werk vir ons gesin.

Dankie pappa God ons vertrou op U.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.