Gedagte vir die dag: Om te soek

bospad_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, beloon. (Hebreërs 11:6)

Dit was die valserige “Veels geluk, liewe Francine, omdat jy verjaar …” wat elkeen van my eerste klompie verjaardae aangekondig het. Ek was lánkal reeds wakker, maar ek het gemaak asof die gesingery my uit ’n diep slaap laat ontwaak het. Natúúrlik het ek gelê en luister hoe hulle in die gang bymekaar kom sodat hulle my kamer kon insluip en my “wakker” sing …

Ná die singery het elkeen my gelukgewens. En dan het die éintlike verjaardagviering begin: Ons is na ons ouers se kamer waar almal, behalwe natuurlik ek, die vorige aand reeds geskenke weggesteek het. Nou moes ek dit begin soek.

“Jy raak ’n bietjie warmer,” sou hulle sê as ek naby die plek kom waar ’n geskenk weggesteek is. Dan sou ek ’n koers kies, of dalk net so ’n bietjie heen en weer loop, totdat iemand uitroep: “Jy raak nou so ’n bietjie koud!”

Nog ’n paar tree links, en almal skree: “Nee, jy gaan vries! Jy is in die Suidpool!” Dan kies ek die teenoorgestelde koers en die hele spulletjie kraai dit uit: “Jy raak weer warm!” Nog een tree – en ’n gejuig klink op: “Pasop, jy gaan brand!”

Dan was dit daar: onder ’n kussing of agter ’n stoel, die toegedraaide pakkie. My verjaardaggeskenk.

Nooit het ek daaraan getwyfel dat ek my geskenk tydens so ’n soektog sou vind nie. Nooit het ek my gesin se aanwysings betwyfel nie; ek het geweet dit is akkuraat. Hulle sou my lei tot waar my geskenk op my wag. Sonder uitsondering.

In die tweede gedeelte van Hebreërs 11:6 lees ons: “Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, beloon.”

Dit vra ’n fyn ingesteldheid op die Heilige Gees en ’n byvoorbaatse dankbaarheid vir sy aanwysings: “Hier is jy nou warm!” Of: “Nee, nou is jy in die Suidpool!”

Maar Hy is hiér, besig om ons in elke stap te lei. Soms gee ons treë in ’n rigting waarvan ons nie so seker is nie. Dan sal Hy van Hom laat hoor. Hy moedig ons aan om ’n ander koers in te slaan, totdat ons warm is en Hy kan sê: “Nou gaan jy brand! Só naby is jy aan jou geskenk!”

Ons hoef nooit daaraan te twyfel dat God ons sal beloon wanneer ons na Hom soek nie. Hy moedig ons aan, Hy gee rigting, Hy beloon. Om hierdie waarheid dankbaar te aanvaar, is reeds die eerste stap in sy rigting.

Ons sal Hom gou vind. Hy praat deur sy Woord. Of deur die fluistering van die Heilige Gees, of die omgeewoorde van geliefdes. Of selfs deur lukrake opmerkings wat ons in ons alledaagse lewe hoor.

Een ding staan vas: Wanneer ons na God soek, word Hy gevind.

Here, ons weet dat ons U sal vind wanneer ons U soek. En dat wanneer ons klop, U sal oopmaak.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

hennie ·

francine ,dit wat jy se strook nie met die waarheid nie.Jy sonder een sin uit en wil n storie daar van maak ,wat jy wil voorgee is dat ek in feetjies moet glo.Wat het geword van die dele dat HY elke oomblik van elke dag aan elkeen van ons toegese het.elke sekonde is reeds bepaal. Daar is een ding wat ons Skepper nie kan doen nie Hy kan nooit Sy woord verdraai of verander
nie. Dus by die grondlegging van die aarde was alles reeds volbring. die mens wil alles verdraai sodat dinge vir ons pas . Geseende dag

GL ·

Dankie Here vir U genade , dankie dat U ons lief het en ons vrede gee. Amen.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.