Gedagte vir die dag: Om te troetel

 sonsondergang-stap-hond-cocoparisienne-pixabay.jpg

Foto: cocoparisienne/pixabay.com

Weerhou my van waardelose dinge; laat my lewe volgens u voorskrifte. (Psalm 119:37)

In een van Suid-Afrika se bekende reistydskrifte is in ’n artikel vertel van ’n gewilde meerdagstaproete tussen die kusdorpe Oesterbaai en St. Francisbaai, die Tjokka-roete. Saam met ’n gids wat goed met die gebied bekend is, kan jy oor ’n tydperk van vier dae die mooi omgewing waardeer, voëls besigtig, besonderse skulpe optel en boonop goeie stapoefening kry.

Die artikel is van treffende omgewingsfoto’s vergesel, insluitend skulpvondse, otters en ander nuuskierige seediere en ’n indrukwekkende groep windmeule vir kragopwekking. Op een van die foto’s is ’n vriendelike skaaphond, Valiant, wat gereeld as ’n “gidshond” by stapgroepe aansluit wat hulle in die omgewing van Oesterbaai bevind. Uitgelate in die vlak golwe dui hy dan as’t ware die pad aan die stappers aan tot by Oesterbaai. Ongelukkig het Valiant op ’n dag net eenvoudig verdwyn, wat uiteraard tot groot hartseer by sy eienaars en “nuwe vriende” gelei het. Hy is nie weer gesien nie.

Troeteldiere, elkeen met sy eie persoonlikheid, is een van God se kosbare geskenke wat vir kleur in die mens se soms vaal alledaagse bestaan sorg. Hulle is meestal dankbare wesens, lojaal en sonder voorgee. Soos hul gepaste versamelnaam aandui, is troeteldiere daar om getroetel te word. Geniet hulle, want hulle is van die waardevolle dinge wat ’n mens se dag  opvrolik.

Bron: God is hier! deur Johann van Zyl
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Ons het klein nagapie groot gemaak en nou is hy die natuur in. Baie hartseer maar gelukkig want ons weet hu is nou waar hy hoort

Yvonne

Sulke waar woorde ivm n troeteldier