Gedagte vir die dag: Om uit te deel

skare_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Handelinge 4:32-35

Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal (Handelinge 4:33)

Gelowiges kyk soms verleë weg wanneer hulle by dié klompie verse kom. Kyk, ons lees mos graag oor die eerste gemeente en hoe voorspoedig hulle was en hoe God se genade groot oor hulle was en hoe lief hulle mekaar gehad het, en dan is daar altyd dié versugting: Hoekom kan óns nie ook wees soos hulle was nie!

Verder bly ons maar stil, want ons wil nie regtig soos hulle wees nie. Ná die bewondering en die lofbetuigings en die versugtinge … kyk ons weg.

Dit is oor daardie uitdelery. Ons wil soos hulle wees, ja, en alles soos hulle beleef, ja, maar daar is darem perke. Ingeligte Bybellesers sal selfs smalend wys op die spoedige geldnood in die Jerusalemse gemeente. Dit is die roekelose uitdelery! sal hulle sê. Dit

is hoekom verskeie ander gemeentes kollektes ten behoewe van Jerusalem opgeneem het (vgl. Rom 15:25-26; 1 Kor 16:3; 2 Kor 8:4; Hand 11:29). Dit het hulle nou daarvan!

Maar in dié verhaal, so tussen die berigte oor die onderlinge mededeelsaamheid deur, word daar ook hierdie stukkie kristalhelder getuienis in dié gemeente gelewer: Die Here het opgestaan!

Slimjanne en sinici moet dus nie so flink in hul oordeel wees nie. Die gemeente se uitdeel van die liefdegawes was bloot die vrug van hul opstandingsgetuienis. Dit was asof dankbare gemeentelede hieruit die krag gekry het om teen nood en armoede in opstand te kom. Om te doen wat hulle bely. As ander gemeentes ook ’n bydrae vir die behoeftiges wil stuur? Asseblief, ja! En dankie by voorbaat.

Neem my lewe, laat dit, Heer, U gewy wees meer en meer.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.