Gedagte vir die dag: Om vol te wees van Hom

twee_mense_stap_sonsondergang_boekvat.jpg

Foto: jorgeschulz.wordpress.com

Hulle het die twee apostels voor hulle laat bring en hulle onder druk gesit met die vraag: “Deur watter krag en in watter naam het julle dit reggekry?” Toe het Petrus, vervul met die Heilige Gees, vir hulle gesê … (Handelinge 4:7-8a)

Van geboorte af was hy verlam. Die man by Mooipoort se grootste begeerte was om te loop. Toe die mense hoor van die wonderwerke wat Petrus en die apostels doen, wou hulle so graag hê dat hulle ook hierdie man genees.

Toe Petrus hom sien, sê hy: “Geld het ek nie. Maar wat ek het, dít gee ek vir jou: Op gesag van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!” (Handelinge 3:6). Onmiddellik word die man gesond.

Die mense is verstom en die priesterhoofde en leiers wil weet: “Deur watter krag het julle dit reggekry?” (4:7). Petrus draai nie doekies om nie en vervul met die Heilige Gees antwoord hy: “Wil julle weet hoe hy gesond gemaak is? Ek wil dit duidelik stel aan julle almal en aan die hele volk Israel dat hy gesond gemaak is in die Naam van Jesus Christus van Nasaret” (4:9-10).

Ons probeer so dikwels dinge self doen. Op ons eie krag staatmaak. Ja, soms hardloop ons hals oor kop uit die huis sonder om Hom saam te neem. Ek wonder hoeveel sou ons kon regkry as ons elke dag, gevul met die Heilige Gees, die dag tegemoetgaan? Kom ons bid sommer nou …

Gees van God, maak my leeg van myself en propvol van U.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.