Gedagte vir die dag: Om weer te sien

arms_uitgestrek_berg_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Efesiërs 1:15-23

Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet (Efesiërs 1:18)

’n Mens het ‘n goeie skoot verbeelding nodig om in hierdie wêreld te kan oorleef. Die slim mense se dit is hoe kinders hul omgewing leer verstaan – deur hul verbeelding vrye teuels te gee. Só speel hulle, só leef hulle.

Maar op ‘n dag is hulle groot en verloor hulle hul fantasieë. Of hulle word ru daarvan beroof, boonop deur siniese grootmense. Hul maklike lag verstil, hul oë word troebel. Hulle sien nie meer wat hulle vroeër so maklik gesien en wat hul lewe kleurryk verryk het nie.

Hoe ouer hulle word en hoe meer die lewe hulle verrinneweer, hoe erger word hierdie blindheid. Sodat hulle uiteindelik, nou self grootmense, die soort tonnelvisie ontwikkel waarmee hulle kan oorleef.

Dit kos die krag van God se Gees om hul oë weer oop te maak, sodat hulle kan sien wat Hy hulle wil wys. Om met insig te kan terugkyk en te sien hoe en hoekom dinge gebeur het soos dit gebeur het. Om met verwagting vorentoe te kyk en ‘n uitsig te kry op die heerlikhede wat voorlê. En om met ontsag te sien hoe groot God se krag is, die krag waarmee Hy sy kinders in die verlede beskerm het, waarmee Hy vir hulle ‘n toekoms skep. Waarmee Hy grafte oopbreek en nederiges verhef.

Wanneer sy kinders weer geleer het om só te kan sien, kom hulle agter hoe werklik sy goedheid is en hoe realisties die drome wat Hy hulle gee. Dat blink oë God se geskenk aan sy kinders is. En dat dit bedoel is om ‘n ewigheid lank te hou.

O leer my om te kan sien, Here! Om weg te kyk van myself, op, na U.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.