Gedagte vir die dag:  Omdat julle weet …

Bybel_lees_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Efesiërs 4:17-24

… omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is. (Efesiërs 4:21)

Jesus se volgelinge sal nooit kan sê hulle het nie die waarheid geweet nie.

Natuurlik weet ons bloedmin van daardie Waarheid wat ons “God” noem. Hy sal altyd die groot Misterie wees wie se weë nie óns weë is nie. Die Enigmatiese, die Onbegryplike. Hy wat geeneen se toestemming vra en aan niemand verslag doen nie.

Maar toe kom Jesus na ons toe en wys iets van God se gesig aan die mensdom. Hy kom vertel van God, wys sy handewerk uit, beduie ons na sy voetspore en vingerafdrukke wat die wêreld vol lê. Boonop word alles opgeteken, ’n hele biblioteek vol, en nou kan geen gelowige sê hy of sy het nie geweet nie.

Daar is dus geen verskoning, skryf Paulus hier, vir Jesusvolgelinge om steeds op die ou koers aan te karring nie. Geen manier waarop die ou tale gepraat en die ou gewoontes gehandhaaf kan word nie. Ons weet nou van beter, ons weet dit al lankal.

Daar is ook geen heil in die ou weë nie, waarsku Paulus. Dit verduister die verstand (vgl. v. 18), dit laat mense afgestomp raak en lei tot ’n onversadigbare drang na losbandigheid (vgl. v. 19). Uiteindelik verteer dit jou (vgl. v. 22). Daarenteen gee die Jesus- alternatief lewe. Maak dit jou gees en gedagtes nuut (vgl. v. 23).

Maar, gelowige, jy weet tog al hierdie dinge. Hoekom sukkel jy dan so? Kyk, dit is nie kernfisika nie, dit is nie eens ’n intellektuele oefening nie. Jy hoef nie God te probeer uitpluis of al Jesus se uit- sprake korrek te interpreteer nie. Dit is bloot elke dag se koers vat agter dit aan wat jy weet. Of, beter gesê, agter Hom aan wat jy ken.

En wanneer ek sukkel of dwaal, Here, kom en vat my hand.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.