Gedagte vir die dag: Omhels verandering

is_wind_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

’n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou velsakke nie. As jy dit doen, bars die sakke, die wyn loop uit en die sakke is daarmee heen. Nee, ’n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en so behou jy al twee. (Matteus 9:17)             

Nuwe wynsakke is sag en kan tydens die fermentasieproses swel en uitsit. Ou wynsakke is reeds hard en sal tydens die fermenteringsproses oopbars.

Wil die Here dalk iets nuuts kom doen in jou lewe hierdie jaar? Miskien wil die Here jou gees verruim of jou begrip vergroot en jou denke kom nuutmaak. Kies om klaar te maak met dít wat jou terughou. Moenie bly terugkyk nie. Lukas 9:62 sê: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.” Kies om te vergewe en vry te spreek. Leef in liefde in plaas van met vrees.

Waag ’n kans deur in geloof op God se Woord en beloftes te vertrou. Hou op om jou te bekommer en begin om in God se vrede en teenwoordigheid te rus. Deur te verander, beteken dit dat jy ruimte maak om meer te ontvang as wat jy ooit vantevore geken het.

Het jy al ’n akrobaat in ’n sirkus sien sweef deur die lug? Wanneer die akrobaat sweef, moet hy of sy kies om die eerste sweefstok te neem en dan nóg ’n kans waag om die eerste sweefstok te los, deur die lug te sweef en dan deur posisieverandering ’n tweede stok vas te gryp. ’n Sweefstok-arties kan nie bang wees vir ongewone gebeure of veranderlike situasies nie. Dit kan lewensgevaarlik wees.

Kom ons laat die Heilige Gees toe om van ons nuwe wynsakke te maak wat saam met die wind van sy Teenwoordigheid kan beweeg, waarheen Hy ook al waai.

Here, verruim asseblief my gedagtewêreld en my gebedslewe. Vernuwe ook my gees sodat ek die beste wyn kan ontvang. Laat ek groei, bruis en oorloop van u polsende Teenwoordigheid. Amen.

Bron: Vroue van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.