Gedagte vir die dag: Onbeskryflike genade

ou-hande.jpg

Argieffoto

Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra: “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?” “Niemand nie, Here,” sê sy. Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” (Joh 8:10-11)

Daar is min Skrifgedeeltes wat Jesus se opregte omgee vir die uitgeworpenes verwoord as juis hierdie aangrypende gebeure. ’n Vrou wat betrap is terwyl sy owerspel pleeg, word na Jesus gebring. Die Fariseërs en skrifgeleerdes het die hef in die hande. Hierdie slegte vrou is skuldig en volgens die wet van Moses moet sy die doodstraf kry. Kort en klaar. Maar nou ken hulle vir Jesus. Hy is die genadige Geneser, die Man wat die evangelie van liefde verkondig. Dit sal interessant wees om te hoor hoe Hy die saak hanteer. Hy kan Hom tog nie teen die wet uitspreek nie. Hy het nie ’n keuse nie. Hy sal die vrou moet veroordeel. Met groot bravade stel hulle hulle saak. Selfversekerd. Selfvoldaan. En daar op die grond sit ’n vrou en wag op die doodstraf.

Jesus sit en skryf met sy vinger op die grond. Skynbaar afwesig. Dan kyk Hy op en sê dis goed, sy kan maar gestenig word. Maar wag, net een voorwaarde: die een van hulle wat geen sonde het nie, moet die eerste klip gooi. Dan skryf Hy verder op die grond.

Die voornemende klipgooiers het die een na die ander weggestap. Toe kyk Jesus na die vrou, miskien met ’n glimlag? Waar is al die beskuldigers? Nie een klip is gegooi nie? En dan Jesus se uitspraak: “Gaan en sondig nie meer nie.”

Genade is nie om sonde goed te praat nie, maar om nie genadelose straf uit te deel nie. Genade is om op te hef en ’n streep deur sonde te trek.

Genade is om die sondaar lief te hê en sonde te haat.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.