Gedagte vir die dag: Onder Isai se seuns … ’n koning!

woestyn_wind_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog oor Saul treur nadat Ek hom as koning oor Israel verwerp het? Maak ’n horing vol olie en gaan na Betlehem toe! Ek stuur jou na Isai toe, want onder sy seuns sien Ek vir My ’n koning”. (1 Samuel 16:1)

Dis geweldige tye in die geskiedenis van Israel, rou tye, wreedaardige tye van die swaard en vernietiging. Daar word vertel dat Martin Luther, toe hy hierdie gedeeltes in Duits vertaal het, sy vrou, Käthe, geroep het met: “Herr Käthe! (sy goedige spotnaam vir haar as baas in die huis), bring brood en wyn, want al word ek van alle kante bedreig, wil ek feesvier dat ek nie in daardie rou tye geleef het nie!”

(Die vraag is of die tye van Luther met die brandstapels nie dalk net so wreedaardig was nie, om van ons s’n met sy atoom- en oorlogsgeweld nie eens te praat nie.)

Maar te midde van Samuel se bloedige tye van oorlog en oordeel was Saul besig om te misluk. Samuel het “getreur” oor sy volk en die koning wat hy gesalf het. Die Here beweeg egter voort: Saul het sy kans gehad en dit was tyd om solank ’n nuwe koning te salf. Daardie koning, nog ’n seun, het God reeds uitgesoek. ’n Man wat hoewel sondig, die  Here sou dien tot die einde; ’n man “na God se hart”. Hy sou nie net luister aan die volk Israel verleen nie, hy sou die voorvader wees van Jesus, die Christus, wat gebore sou word in Betlehem waar hy op daardie oomblik besig was om skape op te pas.

God het altyd (selfs in ’n chaos) ’n fyn draad in sy hand. En dan begin Hy weef. En weef en weef. Altyd werk Hy aan die plan. Altyd met een doel voor oë: die nuut maak van sy skepping en die verlossing van die mens. En altyd, iewers in ons eie lewe tel die Here ’n fyn goue draadjie op … wat ons op ’n dag baie bly en dankbaar maak.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.