Gedagte vir die dag: Onder nuwe bestuur

Storm_boom_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle julle ook met die gedagte wapen dat wie liggaamlik gely het, met die sonde afgereken het: vir die res van sy aardse bestaan word sy lewe nie meer beheers deur menslike begeertes nie, maar deur die wil van God. (1 Petrus 4:1-2)

Christene wat bereid is om vir hulle geloof te ly, het teen die sonde gekies. Hulle lewens word nie langer deur hulle sondige begeertes beheer nie, maar staan onder nuwe bestuur. Christus is nou die Heer van hulle lewe en hulle is bereid om sy wil te gehoorsaam. Paulus verduidelik dit met die beeld van ’n slaaf wat vrygemaak is: solank ons onder die heerskappy van die sonde staan, is ons slawe van die sonde, skryf hy aan die gemeente in Rome (Romeine 6:6).

Maar as ons aan Jesus behoort, staan ons onder die beheer van die Heilige Gees. Nou is ons nie meer slawe van die sonde nie, maar word ons lewens beheers deur die wil van God en lewe ons nou volgens sý riglyne. Is dit al waar van jou?

Here Jesus, dankie dat ek vir U kon kies en dat U my vrygekoop het sodat ek nie langer ’n slaaf van die sonde hoef te wees nie. Amen.

Bron:
Geskenk van genade deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.