Gedagte vir die dag: Ondersteun mekaar

voete_beker_Stiltetyd.jpg

Foto: jamiegrubb.wordpress.com

As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ’n genadegawe ontvang het, die ander dien. (1 Petrus 4:10)

Moenie te trots wees om hulp te aanvaar van jou medegelowiges nie. Hulle gee dit omdat hulle jou liefhet, nie omdat hulle jou wil wys hulle is beter as jy nie. Moenie die helpende hande van Christenbure versmaai nie. Die Here stuur hulle met die opdrag om diensbaar te wees in sy koninkryk. Dit beteken dat hulle nie by jou huis mag verbystap wanneer jy in nood is nie.

Die Here het ons verskillende gawes gegee sodat ons met mekaar kan deel waar nodig, hetsy deernis en medelye, ’n sak vol kuideniersware of geldelike bystand. Die volgorde is nie belangrik nie, die noodsaaklikheid om te deel wel. Werk saam, en ondersteun mekaar.

Dit help nie om die Evangelie onder honger mense te bedien sonder om vir hulle brood te gee nie. Kospakkies is soms so noodsaaklik soos Bybels. Die verskillende bedieningsnetwerke van ’n gemeente vul mekaar aan en funksioneer as ’n eenheid. Paulus skryf die gemeente is soos ’n liggaam. Elke deel het sy eie doel en moet saamwerk om die geheel aan die gang te hou. As een van die dele seerkry, ly die ander ook.

Soms kan die nood van ander mense, ook van jou gelowige broers en susters, so oorweldigend raak dat jy nie raad het nie. Jou vriendin se huweliksprobleme is byvoorbeeld van die aard dat jy nie betrokke mag raak nie. Bied aan om vir haar te bid. As jy nie weet wat om te sê of te doen nie, help haar om by ’n onpartydige, professionele persoon uit te kom en bid dat sy nie moed verloor nie. Vestig haar hoop op Jesus.

Here, om in te meng beteken nie om te help nie. Help my om my gawe reg te gebruik, altyd gereed te wees om die groep en die gemeente te ondersteun en my deel te doen sodat ons gemeente gesond en lewenskragtig kan groei in geloof, hoop en liefde.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.