Gedagte vir die dag: Onhanteerbare situasies

gebed_stiltetyd_sit_sonsopkoms.jpg

Foto: stylonica.com

Lees: 2 Korintiërs 1:3-11

Om die waarheid te sê, ons is ver bo ons kragte belas, met die gevolg dat ons selfs moed verloor het om te bly lewe. Dit het eintlik vir ons gevoel of ons die doodsvonnis ontvang het sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God. Dit is Hy wat ons van só ’n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. (2 Korintiërs 1:8-10, NLV)

Paulus berig hier oor ’n onhanteerbare situasie wat hom en sy geselskap in Asië oorval het. Dit was so erg dat hulle selfs moed verloor het om te bly leef. Maar hierdie ding het met hulle gebeur, so getuig hy, sodat hulle sou besef dat ’n mens nie beheer oor sy lewe het nie, dat hulle nie op hulleself kan vertrou nie, maar wel op God. Dit is Hy wat hulle op die ou end uit die doodsgevaar gered het – en dit is ook Hy wat hulle weer sal red.

Wanneer jy nie self jou situasie kan beheer nie, veroorsaak dit erge spanning. Maar jy moet een ding verstaan: Omdat ons in ’n sondige, feilbare wêreld leef, gaan dit beslis nie elke dag met jou goed gaan nie. Jy is vir seker nie altyd in beheer van jou omstandighede nie, maar God is wel. “God regeer vir altyd deur sy groot mag,” getuig die psalmdigter in Psalm 66:7 (NLV). Die belofte is ook vir jou om aan vas te hou in tye van spanning. Niks kan met jou gebeur waarvan God nie weet nie en waarvoor Hy nie oplossings het nie. Daar kan dus tye kom wanneer jy moet erken dat daar absoluut niks is wat jy aan ’n spesifieke situasie kan doen nie. Dit is dán dat jy alles aan God moet oorgee, en Hom vra om oor te neem.

Here, ek kan nie meer nie – neem U oor, asseblief! Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Muis ·

O Heer neem asb oor ek kan nie meer nie!!!!In U Naam gebeur alles wat goed en reg is AMEN!!!!!!! Prys die Heer.

Elbie ·

Here help my, want ek is in n situasie wat ek nie meer kan hanteer nie. Dit maak my moeg, dit dreineer my van alles. Ek bid vir uitkoms Here asb. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.