Gedagte vir die dag: Ons almagtige God

melkweg_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. (Psalm 19:2) – Deel 2

Om na die sterre te kyk gebeur nie sommer so toevallig nie. Daar is iets geheimenisvol aan ’n donkermaanuitstappie na ’n sterbelaaide uitspansel. Die groot stilte vou jou toe. Jy word skielik deel van die oneindigheid. Die gedreun van die elkedagse gewoel en gewerskaf om dinge hier op moeder aarde op koers te hou is vir eers stil en vergete. Met ’n paar byna ongelooflike feite tot jou beskikking tuur jy die ruimte in om vir God te ontdek. Groot en onmeetlike God. Nee, verkeerd! Jy kan God nie sien nie. Al wat jy bewend van opwinding agterkom, is die grootheid van God, die mag van God.

Hoe “groot” dink jy as jy praat van die “almagtige God”? Wat beteken God se almag vir jou? Die maklikste manier om dit te verduidelik is om te sê dat God alles kan doen, tot alles in staat is. Weet jy naastenby wat die “alles” beteken? Kyk na die sterre! Luister na die oerknal! En weet dat God groter is as alles wat jy kan ervaar.

Laat die wonder van God se mag in jou eie lewe ’n werklikheid word. Ons word dag vir dag oorweldig deur die mag van die natuur en die mag van mense. Ons is magteloos uitgelewer aan allerlei magte buite ons beheer. Kyk net weer na die sterre en ontdek die mag van God. Besef opnuut weer dat Hy jou God en Vader is, dat Hy Hom graag as die Almagtige in jou lewe wil bewys. Vertrou Hom met jou lewe, jou omstandighede.

Bron:
In die skadu van die Allerhoogste deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.