Gedagte vir die dag: Ons dien die Here

sonsondergang_familie_stiltetyd_pixabay-1.jpg

Foto: pixabay.com

As julle nie die Here wil aanbid nie, moet julle vandag vir julleself besluit wie julle dan wil aanbid. Is dit die gode wat julle voorouers anderkant die Eufraat gedien het, of is dit die gode van die Amoriete in wie se land julle nou woon? Ek en my huisgesin sal die Here aanbid. (Josua 24:15)

Ons het gister die geboorte van die Here herdenk. Jy het dalk die voorreg gehad om ‘n hele huis vol gaste te hê.

Hier waar jy vandag stil word voor die Here, dalk voordat jou dag begin, of dalk aan die einde van jou dag, wil ek vir jou vra om jou en jou gesin se lewe opnuut aan die Here te wy. Ons lees van Josua se ongelooflike toewyding aan die God van Israel. Hy was 110 jaar oud en het sy hele lewe lank elke dag getrou op die Here se pad geloop.

Josua se lewe is ‘n ongelooflike voorbeeld vir ons. Neem hierdie voorbeeld vandag en maak ‘n baie besliste besluit dat jy en jou huis die Here sal dien. Dit is maklik om die besluit te neem, maar dit gaan toewyding verg om daarmee vol te hou. ‘n Lewe van toewyding vereis dat jy sy Woord elke dag getrou sal lees. As gesin sal julle saam moet besluit oor dinge wat reg en verkeerd is. As julle besluit het oor iets, sal julle moet vasstaan daarby.

Ons het die voorreg om die Here te ken. Ons lees in sy Woord dat God die Vader vir Jesus aarde toe gestuur het sodat ons die ewige lewe kan erf. God het dit alles so beplan. In die kort tyd wat ons op die aarde lewe, moet ons ‘n impak maak, moet ons die verskil wees in mense se lewens. Ons moet die Here dien soos Josua en sy familie.

Kies vandag uit dankbaarheid vir God. Kies dat jy en jou gesin die Here sal ken en voluit sal dien. Kies vandag dat julle as gesin ‘n verskil gaan maak.

Here, vandag kies ek en my huis om U voluit te dien. Ons kies om van vandag af ‘n verskil te maak. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lena Jonk ·

Here ons kom soos Josua en vra dat U ons Genadig sal wees in hierdie tyd wat ons nog gespaar sal bly dat ons en ons huigesin en familie U sal dien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.