Gedagte vir die dag: Ons dien ’n God van tweede kanse

See-strand-rus-boekevat.jpg

Foto: flowercampings.com

Ter wille van hulle het Hy aan sy verbond gedink, en in sy groot liefde was Hy genadig. (Psalm 106:45)

Wie sy woord egter gehoorsaam – in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. (1 Johannes 2:5) 

Ek het onlangs ’n brief van iemand gekry. Hy skryf: Liesel, ek skryf vir jou uit die tronk. Ek het al soveel maal gruwelik teen God gesondig, Hom keer op keer teleurgestel. Dan vra ek dat Hy my vergewe, probeer ek nuut en opreg oor begin, net om weer te struikel. Sal God my nog ’n kans gee?

Ek kon hierdie man met vrymoedigheid antwoord en hom vertel dat ons nie ’n straffende God dien nie, maar juis die genadige God. Waar sonde en skuld toeneem, word die genade meer. Die kruis van Christus is ’n herinnering aan sowel menslike sonde as God se reddende liefde. Jesus het in ons plek gesterf, nie net om die sonde te bedek nie maar om dit weg te neem sodat dit nooit weer teen ons gebruik sal word nie. Hy het dit vir die hele wêreld gedoen. Al wat ons te doen staan is om in Jesus Christus te glo – ons moet God en ons naaste liefhê. Daar staan in Miga as ons oor ons sonde opreg berou het en Jesus as verlosser aanneem, gooi God ons sonde in die diep see en dink nie weer daaraan nie. Ons dien voorwaar ’n God van tweede kanse. CS Lewis het gesê: “Ek dink as God ons kan vergewe, behoort ons ook onsself te vergewe.”

Psalm 106 beklemtoon dat God ondanks ons ontrou, ons sonde, nooit sy oë of ore vir ons nood sluit nie. Hy bly ons gebede verhoor en stort steeds sy genade oor ons lewe uit, al verdien ons niks daarvan nie. Hy bly getrou!

God se liefde vir die mensdom bereik egter sy doel wanneer die mens God met liefde terugantwoord. Dan weet ons dat ons in Hom is. As ons dus daagliks poog om meer en meer soos Jesus te word, eer ons Hom en leef sy Gees in ons.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.