Gedagte vir die dag: “Het ons hart nie warm geword nie?”

Foto: pixabay.com

Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” het hulle vir mekaar gevra. (Lukas 24:31-32)

Daar was hierdie twee mans wat met oop oë geloop het, maar nie gesien het wat reg voor hulle was nie. Hulle was op pad terug van Jerusalem af nadat daar iets vreesliks gebeur het. Hulle was ontsteld en ontnugter. Die man wat gesê het dat hy die Messias is, is doodgemaak.

Al die hoop wat hulle gehad het, is binne een dag verpletter. Boonop kom hulle op pad iemand teë wat niks hiervan weet nie. “Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?” het een van hulle verbaas gevra (Luk 24:18).

Maar Hy het geweet. Hy het meer geweet as wat hulle ooit kon dink. Hy vertel hulle toe wat hulle nie geweet het nie. Van Moses en al die profete, en Hy lê ook vir hulle al die Skrifuitsprake uit wat op Hom betrekking het.

Hoe kon hulle dan nie sien dis Hy nie! Hulle luister en praat met Hom, maar herken nie die Messias reg voor hulle oë nie! Waarom was hulle oë tog so toe?

Toe nooi hulle die vreemdeling om by hulle oor te bly. Hulle gaan sit saam met Hom aan tafel en hulle eet die brood wat Hy aan hulle gee. “Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn” (Luk 24:31).

Nou vra hulle hulle af: Hoe kon ons dan nie sien dis Hy nie! Ons het met Hom gepraat, na Hom geluister, en Hom nie herken nie. Daar was wel ’n oomblik toe hul geestesoë wou-wou oopgaan. “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” het hulle vir mekaar gevra (Luk 24:32).

Die Here is elke dag hier by ons, tussen ons. Hy stap saam op ons lewenspad, altyd gereed om sy wil te openbaar en sy weë vir ons duidelik te maak. Hy breek ook vir ons brood sodat ons oë sal oopgaan.

Ek wonder wat daardie twee manne sou beleef as hulle op die warm gevoel in hul hart gereageer het. Wat sou hulle nie alles kon sien en met hulle hart kon hoor nie …?

Hoe sou dit wees as die brood wat Jesus breek sentraal in ons lewe staan? As die dankbaarheid van elke nagmaal kon oorvloei na die res van ons lewe? Sal ons bewus word van God se geklop aan ons hart? Wat sal ons nie alles sien as ons oë oop is vir die teenwoordigheid van God in ons midde nie?

Here, dankie dat U steeds by ons is. Maak ons oë oop om U raak te sien.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.