Ons hemelse troos oor ons Koning

hemelvaart

Foto: Paul Gilmore/Unsplash.com

Deur Werner Brotherton

Lees: Handeling 1:9-11 & Hebreërs 1

Het jy al op Hemelvaart gewonder wat Jesus in die hemel gaan doen het? Word jy getroos wanneer jy opkyk na die hemel? Word jy gevul met vreugde oor dit wat Christus in hierdie stadium in die hemel doen wanneer jy wolke sien saampak? Die hele skepping getuig van God se almagswerke, maar die hemele… die hemele bring vir ons onuitspreeklike troos.

Christus se dissipels het nog so gestaan en staar na die hemel, toe mans in wit klere skielik vir hulle vra waarom hulle so staar. Soos hulle Christus sien opvaar het, sal Hy weer terugkom. Maar wat doen Jesus in die tussentyd? Wat maak Hy in die hemel tot Hy terugkom?

Sit. Dit is wat Christus doen. Hy sit. Is dit ʼn verbasende antwoord? Dit behoort nie te wees nie. In gedeeltes uit die Ou Testament soos Psalm 2 en 110 word dit aangedui. Dit is juis die woorde van hierdie twee Psalms wat in Hebreërs gepreek word. Dat Christus aan God se regterhand gaan sit het, word deur die hele brief herhaal.

Nou moet ons mooi besef, Christus sit nie passief nie. Ons sal baie keer sit met die doel om niks te doen nie, of om te rus. Christus se sit is wel anders. Christus sit aktief. Hy sit aktief in drie ampte en doen drie verskillende dinge. Christus sit in die hemel as ons koning, priester en profeet.

As koning sit Jesus aktief en regeer. Hy is die koning bo alle konings. Aan Hom is alles en almal onderworpe. As gelowiges het ons die voorreg om vrywillig in blydskap voor Hom neer te buig. In Christus se heerskappy vervul Hy alles wat in die boek Openbaring gesê word. Hy is die Een wat dit alles laat plaasvind.

Tweedens sit Christus in die hemel as priester. In die Ou Testament het die hoëpriester gewoonlik vir die volk by God ingetree. Hy was middelaar tussen God en die volk. Jesus is ons allerhoogste priester. Hy tree vir ons in by die Vader en sê oor elkeen van ons sondes dat dit volbring is. Daar is betaal sodat ons toegang het tot die hemel. Daardie toegang is vir ewig!

Laastens is Christus profeet. In die Ou Testament het die profete die wil en Woord van God aan die volk bekendgemaak. Dit het nog nooit opgehou nie. Christus doen dit steeds. Ons het die Bybel. In die Bybel word God se wil en Woord bekendgemaak. Daar hoor ons die stem van ons Herder. Christus lei ons deur Sy Heilige Gees elke keer wanneer ons met die Bybel besig is. Die Heilige Gees lei ons om ons Herder se stem te herken. Deur die Woord troos die Heilige Gees ons. So tree Christus as profeet op deur die werk van die Heilige Gees.

So sien ons dat Hemelvaart oor baie meer gaan as dat Christus opgevaar het na die hemel. In Christus se Hemelvaart verwag ons as kerk Sy terugkoms. Met verlange en vreugde kyk ons op na die hemel en weet, Christus kom weer – deur, met en op die wolke!

werner-brotherton-en-gesin

Werner (regs) en sy vrou Engela (links) saam met hulle kindertjies. Foto: Verskaf.

Christus se hemelvaart is die begin van Sy terugkoms. As kinders van God het ons nie net ʼn gewone blou hemel nie. Ons het ʼn vertroostende hemel. Elke keer wanneer dinge te veel voel, elke keer wanneer dit voel of ons wêreld uitmekaar val, kan ons net opkyk na die hemel. Daar kan ons troos vind.

Ja, Christus is nie vir ewig in die hemel nie. Hy kom terug. Dit is ons hemelse troos. Dit is ons hemelse kos elke dag van ons lewe.

Christus leef. Hy regeer. Hy heers. Hy tree vir ons in by die Vader.

  • Werner Brotherton is die predikant van die Gereformeerde Kerk Vryheid. Hy is getroud met Engela en hulle is geseënd met twee oulike kindertjies. Dit is vir hulle ʼn groot vreugde om saam in God se koninkryk te kan werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Henk ·

Ons kan saam met die gemeentes van ouds uitroep:”Maranatha-Kom Here Jesus kom gou!

Lena Jonk ·

Baie dankie vir n pragtige boodskap dit is so asof n mens in jou verbeelding sien hoe Jesus by God sit om vir ons swakke mense voorbidding te doen. Daardie dag as Hy terugkom sal vir Sy kinders n blye, heugelike dag wees. Ons mag seker ook maar se hoe gouer hoe beter. Baie Geseende tyd ook vir julle as gesin. So lief om altyd die dagstukkies te lees, dis vir my so petrol om weer aan te gaan.

Hallelujah ·

Ek sien ook elke uit daarna om die dagstukkies te lees Lena, dit is asof dit mens net ekstra krag gee. Amen

Von ·

Amen dankie Abba Vader vir die wonderlike voorreg om U te kan ken….U Hart vir mensekinders oop te maak….genade op genade.

Dries van der Walt ·

Pragtige woorde Werner. Ek verlang ontsettend na Jesus se wederkoms! Dit maak dat men’s vasbyt in die lewe en soos ‘n kind uitsien na ‘n seevakansie nog veel meer met groot opgewondenheid kan ons uitsien na Sy wederkoms.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.