Gedagte vir die dag: Ons het baie om na uit te sien

Berg_wolke_landskap_ReintDykema.jp

Foto: Reint Dykema

Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. (Romeine 8:18-19)

As jy die koerant oopmaak of na die nuus kyk, word jy baie vinnig daaraan herinner dat ons beslis nie in ’n volmaakte wêreld leef nie. Selfs Christene spring die seer van die lewe nie vry nie, ons leef in ’n gebroke wêreld. Daar kom ’n tyd in ons elkeen se lewe wanneer dit vir ons voel God stel nie in ons belang nie. Weet verseker, God is steeds by jou te midde van dit wat jy voel en jou hartseer omstandighede.

Raak bewus van sy teenwoordigheid in jou lewe deur dagboek te hou van hoe God jou daagliks koester en dra. Skryf elke gebed wat Hy verhoor neer en lees jou joernaal gereeld. Moenie vergeet van die sogenaamde “klein” wonders nie soos om ’n goeie boek te lees, ’n warm bad te neem of ’n mooi blom te pluk. Dalk het jy entoesiasme vir die lewe verloor? Jy kan dit terugkry as jy weer begin dankie sê. Dit gebeur dikwels dat ons dink ons lewe is saai en onopwindend tot ons een of ander voorreg verloor, soos ons gesondheid, dan sal ons enigiets gee om die lewe wat ons eens as vervelig bestempel het terug te kry.

Gaan stap deur ’n hospitaal, of huis vir gestremdes of arm woonbuurt en raak opnuut bewus van God se werk in jou en ander se lewe. Moenie dat onvergenoegdheid jou lewe vernietig nie. Ons is na God se beeld geskep en dit beteken onder andere dat ons die vermoë het om keuses te kan maak. Ons kan nie kies hoe ons gaan sterf nie, maar ons kan wel kies hoe ons gaan leef. Ons kan kies om in dankbaarheid te leef of om gedurig oor alles te kla. Ek wil jou verseker dat ʼn dankbare mens beslis ’n gelukkiger en vervulde mens is.

Onthou, God is in beheer, al voel dit nie vir jou so nie, Hy is by jou midde in ’n krisis. Hy beloof vir jou ’n volmaakte lewe na jou aardse dood, waartydens jy in sy heerlikheid gaan deel. Die heerlikheid van hierdie erfenis gaan baie wonderliker wees as wat die huidige lyding swaar is.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.