Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee. (1 Joh 4:13)
Jy hoef nie te leef soos daardie hamster wat in die wieletjie klim en na nêrens hardloop nie. Dit is nie vryheid nie. Kies eerder om soos die arend te wees. Die arend het ’n bestemming. Sy vlerke is uitgesprei, hy sweef op die lugstrome en geniet die lewe.
Sommige van ons is vandag op ’n trapmeul na nêrens. Ons sê: “Here, ek probeer vir U iets beteken. Here, ek werk vir U.” Maar die Here sê: “Ek het nie jou goeie dade nodig nie. Ek wil vir jou hê. Ek wil vir jou my Gees gee sodat jy vir My kan leef.” Die Here wil jou vrymaak. Hy het vir jou sy Heilige Gees gegee sodat Hy jou deur sy Gees kragtig kan gebruik. Hy sal jou in staat stel om nie meer volgens jou sondige natuur te leef nie, maar volgens die wil van sy Gees.
Wanneer die duiwel dan kom en jou op die skouer tik en jou herinner aan al die slegte dinge wat jy al gedoen het, kan jy vir hom sê dit maak nie meer saak nie. Jy is vry. God het jou vergewe en deur sy Gees sal jy nie weer daardie pad stap nie.
Sê vandag vir die Here dankie vir sy Gees wat in jou woon. Sê vir Hom dankie vir sy vryheid. Sê vir die Here Jesus Christus dankie dat Hy die kettings van skuldgevoelens gebreek het. Gaan dan uit en leef volgens die leiding van die Gees.”
Dankie, Here, dat U vir my u Gees gegee het. Dankie dat U my vry gemaak het. Help my om die leiding van u Gees te volg. Amen
Amen. Dankie.
Christenskap le nie beslag op jou lewe nie. Dit bring bevryding. Daarvoor is n onbegryplike prys betaal. Die hoogste uitdrukking van GODDELIKE LIEFDE spesiaal vir jou.