Gedagte vir die dag: Ons het direkte toegang tot God

Natures-Valley-Boekevat-Foto-Melanie-Schlenter.jpeg

Foto: Melanie Schlenter

Die Here het direk met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend. (Eksodus 33:11)

Christus het nie ingegaan in ’n heiligdom wat deur mense gemaak is en net ’n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn. (Hebreërs 9:24)

Met Jesus se kruisiging en dood het dit oor die hele aarde donker geword. Die Lig vir die mensdom was uitgedoof. Rotse het oopgeskeur en dooies het opgestaan. Jode het die eindtyd gewoonlik so beskryf – ’n finale wending het hier plaasgevind. Die kleed tussen die Heiligste en Allerheiligste van die tempel het geskeur. Net priesters is in die Allerheiligste van die tempel toegelaat, maar met die skeur van die kleed het ’n nuwe bedeling aangebreek – nou het elke mens vrye toegang tot die lewende God. In Grieks staan die skeuring van die kleed in die passief, dus God skeur self die kleed – God is met ander woorde die dader, Hy verrig die aksie, Hy bring versoening tussen God en mens. Ons kan nou met vrymoedigheid, dag of nag, vir God aanroep. Wat ’n voorreg om in ’n verhouding met God te wees, Hom Vader te kan noem. Hy het ons onvoorwaardelik lief. Jesus moes ly sodat ons hierdie voorreg kan geniet. Die Allerheiligste is nie meer vir ons verbode nie, Jesus Christus se sterwe en opstanding maak vir ons die pad na God toe oop. Maak gebruik van hierdie oop deur by God wat Christus met sy lewe vir jou oopgebreek het, en sorg dat jy altyd in noue kontak met God leef.

Daar is talle voorbeelde in die Bybel wat vir ons die bewys is dat gebed wel ʼn verandering kan maak. Moet nooit jou gebedslewe verwaarloos nie, selfs nie al lyk dit asof daar niks meer aan die saak gedoen kan word nie. Stel elke dag ’n gebedslys op en bid vir ander mense. Gebed kán sake verander.

Die Here het met Moses gepraat soos met sy vriend. Weens Moses se volkome toewyding aan God en sy vertroue in God se leiding was daar ’n baie hegte verhouding tussen hulle. Gebed is gesprek met God as Vriend.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lena Jonk ·

Dankie Vader dat ons nie n afspraak met U hoef te maak nie, U is daar vir ons dag en nag, die lyn na U toe is nooit beset nie. Al die lof en eer aan ons Almagtige God.

Elize Colton ·

Amen.
Dankie vir hierdie “Gedagtes van die Dag”.

Die huidie formaat is moeilik om te deel of Facebook-groepe vir swaksiende en blinde persone.

Dit sal so oorweeg word as dit in die vorige formaat voorsien word dat die hele boodskap fisies net so op Facebook gedeel kan word.

Baie dankie.

Elize Colton

Landi Slatter ·

Dagsê Elize

Dankie vir jou terugvoer. Ons moes ongelukkig die funksie wat mens toelaat om teks op die webwerf te kopieer of dat iemand kan regsklik en dan die dokument te kan stoor, deaktiveer, aangesien sommige webwerwe ons inligting onregmatig gebruik het.

Maak gerus óf ʼn skermskoot óf klik regs bo op jou webblaaier (“browser”) op die knoppie wat soos drie horisontale lyntjies lyk (op Chrome en Firefox) of ʼn sirkelvormige ratjie (Internet Explorer). Dit maak verdere opsies oop en daar kan jy dan die dokument in ʼn .pdf-formaat stoor.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.