Gedagte vir die dag: Ons het so gehoop …

Hemelvaart_Opstanding_Stiltetyd.jpg

Foto: Christianheadlines.com

Lees: Lukas 24:13-49

Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan (Lukas 24:45)

Met groot kwashale skilder Lukas in hierdie hoofstuk die gebeure ná Jesus se opstanding. Van die ander Evangelieskrywers sou bepaalde aspekte daarvan in fyner besonderhede beskryf. Lukas sou dit later ook doen wanneer hy in die boek Handelinge die gebeure voor en tydens Jesus se hemelvaart sorgvuldiger inkleur as hier.

Maar sentraal in hierdie vertelling, en uniek aan die Lukasevangelie, is die uitgebreide verhaal van die Emmausgangers. Daardie twee swaarmoediges wat met “somber gesigte” (v. 17) die pad huis toe aandurf ná die dramatiese gebeure op die Golgotaheuwel en die vroue se verslag oor die gebeure by die tuingraf, wat hulle “ook nog ontstel” (v. 22) het.

“Ons het so gehoop …” (v. 21) sug hulle teenoor die vreemdeling wat langs die pad by hulle aansluit en saam met hulle loop.

Maar hierdie hoop is helaas dood en begrawe. En, ai, die vroue darem, met al hul stories …

Hierdie keer is dit hul medereisiger wat sug: “Glo julle dan nie …?” (v. 25).

Nee, hulle glo nie. Eers heelwat later sou hulle teenoor mekaar erken dat hulle iets in hul hart voel roer het toe die saamloper met soveel oortuiging oor die Skrif begin praat het. Toe nooi hulle hom mos om saam te eet, en toe sien hulle sy hande. Toe weet hulle. Toe glo hulle. En die res is, soos hulle sê, geskiedenis.

Die geskiedenis van die Hoopgewer, wat ’n lang pad met kleingelowige hopeloses loop. Wat geduldig bly verduidelik, soos vir kinders. Wat Hom laat ompraat om saam te eet omdat Hy weet dat dit tot hul beswil is, dié wat moeilik begryp en beswaarlik glo.

Here, hoe hou U dit tog met ons uit! Bly praat met ons, open ons oë, ons verstand, ons hart.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Von ·

Dankie opgestane Here dat U soveel bemoeienis maak met die mensdom wat niks verdien nie. Amen

Lena Jonk ·

Ja ek dink ons Jesus is soms so kwaad vir ons wie so sondig is maar ons moet hom elke dag dank vir die Genade wat ons nog steeds ontvang. Jesus ons prys U Heilige naam en dankie dat U ons Almagtige Vader is. U was daar U is daar en sal vir ewig daar wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.