Gedagte vir die dag: Ons hoop op sukses

vyeboom

Foto: Reint Dykema.

Hulle het almal geprobeer om ons die skrik op die lyf te ja, met die gedagte: Hulle sal die werk laat staan en dit sal nie klaarkom nie. Sterk tog my hande, o God! (Nehemia 6:9)

Nehemia is een van die nasate van die Joodse ballinge. Hy is in Persië gebore en was koning Artasasta se skinker, ’n kenner op sy gebied met ʼn goeie posisie aan die hof. Maar God het hom geroep om iets te gaan doen wat niemand van hom sou verwag nie – om die muur van Jerusalem te herbou.

Serubbabel het die tempel 90 jaar gelede laat herbou, maar die Jode wat soontoe teruggekeer het, was onbeskerm en uitgelewer aan vyandige volke rondom Jerusalem. Toe Nehemia dit verneem, is hy meegesleur deur ’n gevoel van verantwoordelikheid teenoor sy volk. Koning Artasasta het hom toestemming gegee en Nehemia het gegaan en die ballinge oortuig dat hulle onder die beskerming van God sal bou. Hulle het die werk toe met ywer aangepak. Sanballat van Samaria, Tobija van Ammon en die Arabier Gesem, was jaloers en het Nehemia en die bouers so getreiter dat hulle met ’n troffel in die een hand en ’n wapen in die ander moes werk.

Nehemia het elke hindernis wat Sanballat en sy trawante in hul pad wou rol, ook hul onderlinge verskille, met gebed en geloof uit die weg geruim. Die muur is in die rekordtyd van 52 dae voltooi en is op luisterryke wyse ingewy. Omdat een man gehoorsaam was aan die stem van God, was Jerusalem weer ’n plek van aanbidding en ’n veilige hawe vir God se volk.

Wou jy al iets in jou gemeente aanpak waarvoor jy op die oog af nie bekwaam was nie? Hoeveel Sanballats en Tobijas en Gesems het jou al bespot en verneder en jou werk gekritiseer? Moenie moed verloor nie, glo en bid. Jy sal nog soos Nehemia terugstaan, jou handewerk beskou en God loof.

Here, U oortuig ons van ons roeping. Met U aan ons kant, sal die hoop op sukses ons nie beskaam nie.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann Marx ·

Nehemia het ook eers knaend gebid en NIKS het gebeur nie, tot dat hy opgestaan het van sy knietjies af, en begin doen het waarvoor hy gebid het!! Blanke Suid Afrikaners is nog nie daar nie….gaan lees maar die kommentare op Maroela Media: “Ons moet bid mense…Ons moet terug draai na God toe mense….God moet nou ingryp mense….Wanneer is genoeg genoeg mense?….Waar’s ons leier mense?….Wie gaan iet hieraan doen mense?…” Daar sal niks in hierdie land verander voordat die “bidders” nie begin DOEN aan dit waarvoor hulle gebid het nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.