Gedagte vir die dag: Ons hoop op vreugde

vrou_arms_uitgestrek_sonsondergang_see.png

Foto: onestoneaway.com

Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop op die heerlikheid wat God vir ons bestem het. (Romeine 5:2)

Dis slegte tye. Afdelings word gesluit, mense verloor hul werk links en regs en soek tevergeefs na uitkoms. Ons hoor hartseerstories oor die nuus en sien skrikwekkende dinge op die televisie. Ons ervaar hoe ons eie mense onder druk ingee, Jesus wegstoot en afwys en tot bespotting maak.

Paulus herinner die Romeine aan die geskenk van genade wat hulle reeds ontvang het, ’n gawe waaraan hulle kan vashou, al gaan dit swaar en al is dit moeilik. Vandag se sorge kan môre verdwyn, dalk oormôre, of die dag daarna.

Jy ontvang ’n e-pos wat jou gerusstel oor ’n kind in die vreemde, iemand bied vir jou ’n werkie aan, jy kry ’n besoeker wat jou opbeur. Dit alles maak jou gelukkig. Maar dis tydelik gemeet aan die vreugde wat jy reeds in Jesus het. Verheug jou in die hoop. God bestem vir jou ’n heerlike toekoms. Jy sal beslis nie deur die tweede dood getref word nie (lees Openbaring 2:11).

Jy sal verborge manna eet – geestelike kos wat jou ten volle sal voed. Jy sal ’n wit klippie kry met jou nuwe naam daarop – jou uitnodigingskaartjie na die bruilof van die Lam (lees Openbaring 2:17). Jy sal die Môrester sien – Jesus in majesteit en glorie (lees Openbaring 2:28). Jy sal wit klere dra en jou naam sal nooit uit die boek van die lewe verwyder word nie – jy sal rein leef en ewig aan Jesus behoort (lees Openbaring 3:5). Jy sal ’n pilaar in die tempel van God wees en ’n ewige tuiste by God kry (lees Openbaring 3:12). Jy sal saam met God op sy troon sit en saam met Hom heers (lees Openbaring 3:21).

Here, ek verheug my in die hoop, ek dans van vreugde. My toekoms is verseker.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Danie Doubell ·

Elke oggend lees ek van hoop en oral in die Bybel vind ons dit telkens soos wat julle dit elke oggend vir ons bewus maak. Ek is ‘n pa van drie fantastiese kinders en het die beste vrou in die wereld maar ek is besig om hulle te na te kom. Ek het misluk as pa om in hulle daaglikse behoeftes te voldoen. Gister was my vrou se verjaardag en ek kon nie eers ‘n kaartjie bekostig om vir haar te koop nie want anders kan ek nie kos koop nie. My kinders kyk op na my, hulle is op universiteit en op skool en soms is daar dae wat hulle nie kos het om te eet nie. Ek het misluk! Ek het so baie skuld en weet nie hoe om mense in die oe te kyk nie. Ek is te bang om my telefoon te antwoord want die mense soek geld. Ek hou die deur dop in die aande want ek weet nie wanneer die balju my goed gaan kom vat nie. Ek lewe in absolute vrees. Ek bid en praat met die Here. Het al diep ondersoek ingestel in myself of daar nie ‘n sonde is wat ek nog nie bely het nie. Soms voel dit vir my asof die mossies vir God meer beteken as ek.

Theuns ·

Danie my hart gaan uit na jou en jou gesin. Vertroos jou met die wete dat baie mense ondervind tans probleme en nie net jy nie. God weet van jou en hy sal jou en jou gesin versorg! Onthou net “doller as kop af” kan dit nie gaan nie! Jy het moed aan die dag gele om die kommentaar te skryf. Weet dat jy n goeie man vir jou vrou en pa vir jou kinders is en dat God vir jou net so veel, indien nie meer nie, as vir die mossie omgee. Ek sal vandag vir God bid en hom prys. Jou verlossing is naby.

chris ·

Danie, toe ek jou kommentaar lees besef ek hoe gelukkig ek is. Ek kry eitlik skaam as ek besef , ek het n goeie werk, goeie salaris, genoeg kos op die tafel en daar is mense soos julle wat bitter swaarkry . Maar dit wat ek ontvang het is net genade, dit is nie ons s’n nie maar God s’n !!
Danie, ek bid vir jou en jou gesin dat ons Hemelse Vader , net soos Hy kan, vir julle op ‘n wonderbaarlike wyse sal seën met Sy groot liefde en genade. Baie sterkte. Glo net , God SAL voorsien !!

Christa ·

Ai “Danie” ek bid vir jou, Sy wil is nie ons wil nie, maar glo my God sal jul nooit in die steek laat nie. Baie sterkte ek dra jul op aan ons Groot Koning.

Sterkte XXXXXXXX

Theuns ·

Ek is n ou man en ek sit hier in my kantoor en huil oor Danie en sy gesin. Dankie Chris en Christa! Kan ek Maroela vra om aseblief vir Solidariteit Helpende Hand te vra om Danie en sy gesin te besoek en te kyk wat hy nodig het! Ek sal ‘n bydra maak. Laat weet my.
Dankie

Maritsa ·

Beste Danie . My hart raak nou so seer vir jou. Al wat ek vir jou kan se moenie ophou bid nie, moet nooit ophou nie. God sien jou raak. Wanneer ons deur moeilike omstandighede gaan dit is wanneer God die naaste aan ons is. Glo hoop en vertrou. Ek bid vir jou en jou gesin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.