Gedagte vir die dag: Ons is nooit alleen nie

Berg_wolke_landskap_ReintDykema.jp

Foto: Reint Dykema

Hoe groot is u goedheid: dit is altyd daar vir dié wat U dien. (Psalm 31:20)

As jy die Here ken en dien, sal jy Hom in alles raaksien. Hy sal jou omring met die lug wat jy inasem, met die son wat vandag weer op sy tyd opgekom het, die voëlgesang in jou tuin, die geur van klam grond as jy vroeg opstaan en uitgaan en in stil gebed Hom loof en prys. Miskien is jy vroegdag al op die snelweg en sien elke dag hoe die rooidag op die horison breek, dieselfde landmerke wat wagstaan langs die pad.

Die Here is by jou en sy goedheid is groot. Jy het werk, jy het ’n plek in die samelewing. Hy het dit vir jou beplan, van die dag toe jy gebore is. Hy was daar toe jy die eerste lewenslig aanskou het, toe jy jou eerste treetjie gegee het en op jou eerste skooldag. Elke keer as jy eksamen geskryf het of resies gehardloop of rugby gespeel het, was Hy daar, ook toe jy byna in die versoeking gelei is om saam met die ouens te rook en te drink. Hy was daar toe jy jou matriekeksamen met onderskeiding geslaag het en grasgroen op universiteit aangekom het. Hy was jou troos met jou eerste liefdesteleurstelling, jou vreugde toe jy voor die kansel gestaan het en ewige trou aan jou lewensmaat belowe het. Hy was saam met julle verheug oor elke kindjie wat vir julle gebore is en wat julle in sy Naam laat doop het. Hy was ook langs jou toe jy jou ouers graf toe gedra het. Hy sal daar wees as jy oud en moeg is. Elke keer as jy in die hospitaal beland, sal Hy saamgaan. Roep Hom aan en Hy sal jou nooit alleen laat nie. Hy sal vandag by jou bly, en môre en oormôre en tot in ewigheid.

Heilige Here, dankie dat U ons nooit, ooit alleen laat nie.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.