Gedagte vir die dag: Ons is vol sonde

Herder_skape_veld_stiltetyd.jpg

Foto: carbonchurch.com

Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is. (Lukas 19:10)

Dit klink soos ’n goeie ding – ’n selferkenning dat ons van ons tekortkomings bewus is en nie dink ons is beter as ander nie. So dikwels bedoel ons egter iets heeltemal anders. Dit kan óf beteken ons sê: “Ek weet ek het foute – êrens – maar jy is doodsleg!” óf: “Ek weet ek is vol sonde, maar moenie aan my karring nie, ek geniet elke krieseltjie daarvan!”

Beide hierdie bedoelings is lewensgevaarlik, want dit kom daarop neer dat ons Jesus Christus effektief uit ons lewe verban. Hoe so? Omdat nie een van hierdie uitsprake sê: “Ek het verlossing nodig” nie.

Dit klink na ’n positiewe stelling om te sê: “Ek weet daar is nog baie dinge in my verkeerd,” maar die bedoeling daarvan kan ons van die lewe beroof. Jesus is nie op ’n foutvind-sending nie, maar sy Gees leef nie saam met sonde nie. Jesus speel daarmee klaar in ons lewe – as ons Hom nie uitsluit nie. Die vraag is: Wil ek hê Hy moet daarmee klaarspeel?

Dis amper soos iemand wat wil ophou rook deur te sê: “Hierdie is my laaste sigaret.” Dit wil sê: “Ek weet ek moet ophou, maar nie nou nie. Ek gaan eers hierdie laaste een geniet.” Die kans dat jy dit regtig gaan doen, is nie baie groot nie. ’n Mens wat dit regtig wil vermag, sal sê: “Die laaste een wat ek gerook het, was my laaste – ek is klaar daarmee!”

Om Jesus toegang tot jou lewe te gee is nie ’n administratiewe prosedure nie. Dis ’n berekende aksie gebore uit ’n wil om by Jesus te wees, maak nie saak wat die koste is nie.

Bron:
Op vlerke van geloof deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

Christus het kom sterf vir ons sondes, want Hy is goed bewus van die mens se swakhede… “repent… repent…” Ons mense is platgetrap. Nee wat mense, ons kan nie aanhou om in depressie te leef nie. Predik eerder geloof en moed vir die ellendiges en nie meerwaardige afpraatboodskappe nie, asb. G’n wonder mense hardloop agter lekepredikers in braak velde aan nie. Hulle soek na ‘n sprankie Hemelse hoop in die’ verskroeide land van ons.

Michelle ·

Amen. Baie dankie Here dat ek weet U het my sonde vergewe. Baie dankie vir n 2de kans.

Lena ·

Maak nie saak wat die koste is nie? Wat gaan dit kos? Dit gaan jou alles kos! Is jy gereed daarvoor? Ek is!

Paul ·

As ons wat nietige skepsels is,tog net hierdie groot waarheid kan besef,dat voorspoed en seeninge volgens die mate wat God dit vir elkeen bepaal het,opgesluit lê in net een aspek van die geeslelikke arena en dit is vergifenis van ons sondes:Here vergewe ál my sondes,ongeregtighede en waar ek U teleurgestel het en help my om my naaste lief te hê en te respekteer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.