Gedagte vir die dag: Ons moet God se hande en voete wees

stad_sonsondergang_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Moenie die genadegawe wat jy het, verwaarloos nie … Lê jou op hierdie dinge toe, leef daarin, sodat almal jou vordering kan sien. Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister. (1 Timoteus 4:14-16)

Daar is ’n ware verhaal wat vertel van ’n seun wat in ’n pragtige dorp in Europa grootgeword het – die dorp se inwoners was baie trots op die feit dat die mooiste katedraal in Europa binne hulle grense geval het. Die seun het die majestueuse katedraal gereeld besoek; tydens sy besoeke het hy keer op keer die pragtige loodglaswerk en argitektuur van die kerk bewonder. Hy was gebroke toe die glorieryke katedraal byna totaal verwoes is in die Eerste en Tweede Wêreldoorloë. Sy lewe het egter voortgegaan en hy het uit die dorp getrek om sy loopbaan in ’n groter stad te bevorder. As middeljarige man het hy teruggekeer na sy tuisdorp en hy was verheug om te sien dat die dorpenaars die katedraal herbou het. Hy kon nie glo dat dit so mooi herstel is nie.

Hy het met groot verwondering deur die houtbanke gestap tot by die marmerbeeld van Jesus aan die kruis wat hy alte goed geken het. As jong seun was dit vir hom een van die allermooiste kunswerke wat hy nog ooit in sy lewe gesien het. Hy was egter verbaas om te merk dat die beeld nie volkome herstel is nadat skrapnel die voete, hande en gedeeltes van die gesig van die beeld vernietig het nie. Geskok het hy na die predikant gestap en gevra waarom hulle nie die marmerbeeld van Jesus aan die kruis so mooi soos die res van die katedraal herstel het nie. Die predikant het geantwoord: “Ons het dit so gelaat juis om ons te herinner dat ons Jesus se hande en voete, ore en oë hier op aarde moet wees. Ons is sy verteenwoordigers in hierdie gebroke wêreld en elke keer as ons na die onherstelde beeld kyk, dink ons weer hieraan.”

In vandag se teksgedeelte beklemtoon Paulus dat God ons elkeen besondere vermoëns gegee het, daardeur word ons in staat gestel om diensbaar te wees in die gemeente as die liggaam van Christus. Ja, deur ons verskillende gawes uit te leef is ons God se hande en voete hier op aarde.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Charlie ·

Amen! En dis wie ons wil bly! Hemelse Vader ons het U so nodig, ons is niks sonder U nie en kan nie sonder U nie. Ons gebroke wêreld is hard en breek ons. Gee ons die krag om elke dag met nuwe krag te kan aanpak en om te bly glo en vetrou dat U ons sal red en ons nooit sal los nie. Dat U die gebroke reeds oorwin het en ons eindbestemming volkome en volmaak is. Amen! Psalm 91 oor die hele mensdom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.