Gedagte vir die dag: Ons moet mekaar liefhê

 Stiltetyd-9.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

Lees: 1 Johannes 4:7-11

Geliefdes, laat ons mekaar aanhou liefhê, want volmaakte liefde is van God afkomstig. Elkeen wat só liefhet, is uit God gebore en ken God persoonlik. (1 Johannes 4:7)

Naasteliefde is seker een van die onderwerpe in die Bybel waaroor daar die meeste geskryf word. Dit is waarskynlik ook een van die moeilikste dinge om opreg te doen. Die Bybel gee egter vir ons redelik spesifieke riglyne hieroor.

Maar kom ons begin by die begin: Wie is ons naaste? Wie sê God is ons naaste? Volgens Bybelse riglyne is enigiemand wat oor jou pad kom jou naaste. Naam, voorkoms, status, geslag en kleur maak nie saak nie.

Hoe moet ons ons naaste liefhê? Die Here self stel vir ons die voorbeeld. God het ons so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gestuur het om vir ons sondes te sterf (Joh. 3:16). Die Here het die hoogste prys betaal om sy liefde aan ons te bewys; daarom moet ons sy voorbeeld volg van hoe om ons naaste lief te hê.

Vir die Here is geen prys te hoog om naasteliefde te demonstreer nie. Niks is vir Hom te veel nie. Hy buig laag om sy kinders te help. Hy versorg sy kinders soos niemand anders kan nie. Die Here is ons voorbeeld in hoe om ons naaste lief te hê en verwag dat ons dit nadoen; daarom het ons geen reg om ons oor ander mense aan te stel nie. Ons kan nooit dink ons is beter as iemand anders nie. Ons mag nie op mense neersien of nie hulle menswees erken in die gemeenskap nie. Voor die Here is ons almal dieselfde.

Ons lees in 1 Johannes 4:7 as ons ons naaste liefhet soos die Here ver wag, staan ons in ’n persoonlike verhouding met God.

Omdat God ons tot die uiterste toe liefgehad het, moet ons mekaar ook tot die uiterste toe liefhê (v. 11).

Here, om jou naaste lief te hê soos jouself kom nie elke dag maklik vir my nie. Ek bid vandag ernstig dat U my hart sal vul met u Goddelike liefde vir my naaste. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pierre ·

Mr Skrywer, kan jy vir ons daardie bybelse riglyne verder hier noem dat enige iemand wat oor jou pad kom jou naaste is.

Mina ·

Die “barmhartige samaritaan” en die uitleg daarvan verduidelik baie mooi jou naaste en jou optrede teenoor jou naaste.

Pierre ·

Die een Samaritaan help die ander Samaritaan – sy naaste, sy eie mense.
Samaritaan wat ook op reis was van Jerusalem na Jérigo?

Wie was die Samaritane?
2Ki 17:28 En een van die priesters wat uit Samaría weggevoer is, het gekom en hom in Bet-el gevestig en hulle geleer hoe hulle die HERE moet vrees.
2Ki 17:29 Maar hulle het, elke nasie, sy eie god gemaak en in die tempels van die hoogtes opgestel wat die Samaritane gebou het; elke nasie in hul stede waarin hulle woonagtig was:

Skies ·

Lukas 10:26  En Hy antwoord hom: Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy? 
Lukas 10:27  En hy antwoord en sê: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself. 

ANDRIES ·

Ek sou sê jou naasste is enige iemand wat jou pad kruis.

Sam ·

As jul maar net die waarheid geken het!!

Naaste is die teenoorgestelde van verste. Jammer so min verstaan vandag die Bybel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.