Gedagte vir die dag: Ons nuwe tuiste

 wolke_berg_see_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.” Verder sê Hy vir my: “Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde.” (Openbaring 21:5-6)

Daar is ’n storie wat van ’n meisie vertel wie se pa oorlede is toe sy maar tien jaar oud was – sy en haar ma het vreeslik gesukkel om die mas op te kom. Geld was skaars en die meisie moes toe noodgedwonge die skool verlaat om te gaan werk soek. Die werksoekery het maar sukkel-sukkel gegaan, aangesien sy nie regtig vir iets gekwalifiseerd was nie. ʼn Winkeleienaar was simpatiek teenoor haar en het haar ’n pos met ’n karige loon aangebied.

’n Jaar of wat hierna is haar kleinneef oorlede en dié het vir die dogter al sy besittings en geld nagelaat – dit was ’n groot bedrag geld en sy en haar ma was uit die veld geslaan. Hulle het hulself bederf deur ’n pragtige huis te koop, ’n voorreg wat hulle nooit geken het nie. ’n Paar maande nadat hulle in die huis ingetrek het, is die meisie met kanker gediagnoseer – haar ma en hulle vriende was platgeslaan. Sy het haar skynbaar glad nie hieroor ontstel nie, nie eens toe die dokter die hartseernuus oordra dat sy maar enkele maande oor het om te leef nie. Mense het haar verstom gevra: “Jou lewe het so pas eers in ’n wonderlike positiewe rigting begin draai, hoe kan jy so rustig wees oor die feit dat jy binnekort gaan sterf?” Sy het net geantwoord: “O dis maklik, ek het nou soveel meer om na uit te sien.”

Hierdie meisie het besef dat ’n volmaakte lewe saam met God op haar in die hemel wag. Ons weet nie presies hoe die nuwe aarde sal lyk nie, maar gelowiges sal vir ewig in volmaakte harmonie met God daar saamwoon, en die volheid van sy lewende teenwoordigheid geniet. Waar God regeer is daar vrede, veiligheid en liefde. Daar sal nie meer trane, dood, leed, pyn of smart wees nie. Wat ’n wonderlike vooruitsig.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MOEKIE ·

Dit is so waar baie dankie vir hier die troos my seun is al 40jaar oud het het veskeie brein siektes
maar sy geloof is so sterk hy bid,bid en bid,sodat ek ook glo dat ek ook my lewe aan JESUS gegee het, sodat ek eendag saam hom daar sal wees. Die bybel se DIE KONINGKRYK BEHOORT AAN DIE ARME VAN GEES. is dit nie n wonderlike troos nie n onvolmaakte liggaam wat eendag niks gaan makeer nie saam met GOD op sy troon en dan belowe GOD dat hy n maaltyd aan GOD se tafel gaan eet. dankie JESUS vir daardie
troos woorde aan n Moeder. troos aan elkeen wat n siek kind of familie lid het moet nooit moed opgee nie sterke GOD met ons.AMEN

J ·

Sjoe. Ek sit hier en besef hoe geseend ek is. Ons familie(vrou, seun14 dogter 7(sy verjaar more) kry die ruk so swaar ,dat ek al soms gewonder het oor God en hoekom HELP Hy nie. Ons was welgestelde mense en het als verloor.Intussen het ons geemmigreer ons is werkloos.Die Kerk help ons alhoewel ons nie groot kerkgangers was nie.Ons is gehelp met blyplek en kos al is dit net n tydelike reeling. Satan treiter en toets ons heeltyd. My vrou moes 2 weke gelede n noodoperasie ondergaan. My kinders was 3 maande nie in die skool nie en a.g.v. dit het my seun gedruip. Ons het miskien nie baie vooruitsigte nie,maar luister n bietjie na al ons seeninge
a) God het na ons wekroep geluister!
b) Ons het kos en blyplek
c) Ons familie is nog bymekaar en staan sterker as ooit!
d) Ons het begin Kerk toe gaan(kinders het dit nie geken nie en geniet dit so baie)
e) My dogtertjie verjaar more en ons kan vir haar cupcakes bak.
f) Kersfees is hier,niks geld vir n persent of 2 nie,maar dis tyd om as familie die werklike rede van Kersfees te geniet!
g) Ons is gesond! En nog baie?

Ja ek word nog steeds mistroostig en negatief,maar weet God is daar! Hy ontferm Hom oor ons probleme al lyk en voel dit nie altyd so nie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.