Soos die oë van ’n slaaf gerig is op die hand van sy eienaar, en soos die oë van ’n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die Here ons God totdat Hy Hom oor ons ontferm. (Psalm 123:2)
Ek onthou dié teks nog van kleintyd. Ons dominee op die dorp het dit baie graag as votumteks gebruik. Ek het telkens in my verbeelding ’n gewillige (selfs beangste) slaaf gesien wat met stokstywe oë sy baas dophou, en gewonder of dit regtig is hoe ons na die Here moet kyk. Nou verstaan ek die teks beter. Dit gaan oor iets anders. Dit gaan oor oorgawe en vertroue. Die slaaf van die teks is nie bang nie. Hy wil graag met volle oorgawe luister en leer. Hy betoon sy volkome afhanklikheid van sy heer.
En dan vir die verrassing: Dit gaan ten diepste oor die “totdat Hy Hom oor ons ontferm”. Die slaaf wag op genade. En vir hom is die genade nie onseker nie. Hy weet dat dit kom. Die Here sal hom oor sy “slawe” ontferm. En die slawe van die Here is nie mense wat wederregtelik van hulle vryheid beroof is nie, maar mense wat hulle vrywillig aan die gesag van die Here onderwerp het. Slawe? Nee, kinders! Erfgename!
Die teks verwoord iets oor die manier waarop ’n gelowige op die Here wag. Ons manier van wag is te dikwels voortvarend, amper soos dié van mense wat vir die maandelikse salaristjek wag. Ons verdien dit mos. Maar by die Here verdien ons niks. Eers as ons só wag, ontdek ons wat dit beteken om kinders van God te wees; ontdek ons dat God nie anders kan as om sy kinders genadig te wees nie.
Dankie Jesus en wees ons asb genadig dankie dankie vir liefte geduld en genade ons is niks sonder U ,U is Groot Dankie